top of page

SESSIE: PSALM 119


Psalm 119 is die langste psalm in die Bybel, maar ons lees net van vers 1-16 en 97-106. Hoe laat voel hierdie teks jou? Wat staan vir jou uit in hierdie verse? Die psalms is baie hartroerende tekste, dikwels met emosie belaai, maar daar lê diep waarheid, orde en struktuur daarin.



Psalm 119 is een van 9 akrostiese psalms in die Bybel wat dui op die orde, dissipline, struktuur wat die Israeliete, en ons vandag, so broodnodig het. Elke paragraaf begin met een van die letters in die Hebreeuse alfabet (van aleph tot tav). Dit dui op orde, op volheid, finaliteit, allesomvattend.



Hoe sou jy die huidige wêreld beskryf? Wat is reg en verkeerd? Deesdae moet almal se gevoelens in ag geneem word en niks word meer as "verkeerd" bestempel nie. Alles is oukei en ons gebruik selfs die term "soos die Gees ons lei."



Die Heilige Gees speel 'n belangrike rol en is deel van die drie-eenheid, maar die Gees gaan jou lei na die waarheid, na Jesus, God se Woord. Ons geloof kan nie net op gevoelens gebasseer wees nie, maar op diep gehoorsaamheid agter Jesus aan.



Lees Matteus 5:17-19. Wat beteken hierdie teks vir jou? Hoe sien jy dit uitspeel in Psalm 119? Merk al die woorde wat na die belangrikheid van die Woord wys - bevele, verordeninge, voorskrifte, bepalings, gebooie, wet...



Wanneer Jesus van die wet praat, verwys Hy self ook na die Psalms. Wat dink jy bedoel hierdie woorde? Die hele Bybel met alles daarin, is God se "orde". Dit openbaar Sy karakter en majesteit, dis Sy wil en Sy plan, dis absoluut.



Kyk bietjie na die foto van 'n familie in die 1970's. Hoe lyk familie foto's uit jou verlede? Lag jy ook vir die modes en sienings van daardie tyd... of kry skaam... of skud jou kop in ongeloof? Ek is seker hulle het gedink hulle is reg en vandag dink ons hulle was so verkeerd! Wat gaan mense oor 20 jaar van ons foto's en nuus en lewenswyse sê?


Gevoelens verander, kulture verander, modes verander, maar God se orde staan vas en verander nie. Hoe dink jy dan moet ons lewe? Hoe moet ons die Bybel lees?



Kyk na die aanhaling van Augustinus, een van die vroeë kerkvaders. Hoe is dit van toepassing op jou eie lewe? Daar is so baie grys areas in ons lewe, maar God roep ons na die lig, die waarheid toe. In watter areas loop jy dalk in die donker... of in die skaduwees...verdraai jy die waarheid of pas dit aan om jou te pas?



Lees weer vers 103-106. Daar is net een pad - geen kortpaaie nie - en dis die pad van gehoorsaamheid wat ons moet stap. Dis nie altyd 'n maklike pad nie, dis nie altyd die lekkerste pad nie, maar dis die pad wat almal moet stap, dis die pad wat Jesus gestap het.


Hoe meer jy op hierdie pad stap, hoe meer sal die lig vir jou aangaan, hoe meer sal jy verstaan, hoe meer sal jy begryp, hoe ligter sal die las raak en hoe meer "verlig" sal jy wees. Dis die werk van die Heilige Gees, die Verligter, die Lig en die Lamp (soos wat dit dikwels in die Bybel na verwys word).



Kyk na jou voete. Jou voete vertel die storie van waar jy loop. Jesus het die voete gewas van die dissipels wat agter Hom aangeloop het. Waar het jy afgedwaal van die ou, bekende en deurgetrapte pad van Jesus? Hoe kan jy weer terugkom op die pad? Lees die Woord, dis die pad na 'n persoonlike verhouding en ontmoeting met Hom, dis die openbaring van Sy hart en Sy wil. Soek Sy wil, soek Sy pad en die lig sal vir jou aangaan.



Lees Jeremia 6:16. Wat staan vir jou uit in hierdie verse? Mag jy nie sê: "Ons sal nie daardie pad loop nie."


BID:

* Here, help ons om gehoorsaam te wees aan U bepalings en voorskrifte, U wet en U gebooie, want dit is die regte pad. Mag ons meer en meer U wil soek en so die lig en leiding van U Gees in ons lewens ervaar.

AMEN.




 
 
 

Comments


Bly op hoogte

Dankie vir jou deelname!

081-701-8260

horn@afol.com.na 

©2023 by Terracotta. Proudly created with Wix.com

bottom of page