HIERDIE WEEK SE TEKS: Matteus 15:32-39
Met die skool wat nou onlangs weer begin het (eintlik is dit al weer redelik volstoom aan die gang, maar dit voel asof ek en my kinders reeds baie agter is!), moet daar weer kosblikke gepak word en party dae selfs tweede kosblikke vir die direk-na-skool-aktiwiteite. Hierdie direk-na-skool aktiwiteite is nou ook nie meer ‘n uitsondering op die reël nie, maar lyk my ‘n gereelde en vaste manier van doen. Die arme juffrouens. Die arme gesinstyd, want wat het nou geword van middagete saam eet? Nietemin.
Dis baie kosblikke en dit vra uiterste kreatiwiteit. Party van ons is wel so bevoorreg om te kan inkoop (letterlik, want dis nie ‘n cheap storie nie) op die swipe-kultuur om sommer net die snoepie te paytoday of die bankkaart saam te stuur. Dis maklik en effektief, ek stry nie.
Maar vir meeste old school- en kerkmuis mammas bly dit ‘n uitdaging. (Onder andere ook uitdagings soos hoe jy die oorskiet huiskos gemaklik by die skool sal kan mikrogolf... of nie vreemd aangekyk word as jy jou tuisgemaakte smoothie in juffrou se yskas moet bêre nie).
Noem my maar old school of net dom, maar ek is nog van daardie mammas wat ‘n stukkie humble pie in die kosblik moet sit – ietsie wat die gevoel van nederig, aards, tuisgemaak en mamma-is-lief-vir-jou-en-maak-lekkerder-kos-as-die-snoepie gee.
Menigte oggende staan ek deur die slaap voor die koskas met my hande in my hare oor wat om in te pak in die drie maal pouse-tyd kosblikke, en die drie maal direk-na-skool kosblikke. Want hulle kan ook nie twee maal in ‘n ry pizza eet nie. Daar moet ten minste iets souts wees en iets soets en iets gesond.
Die kort en die lank van die kosblik-tirade, is dat ek myself verstom met die kreatiwiteit wat na vore kom as daar die oggend niks in die peuselhappie-mandjie of die broodblik is nie. Daar is ‘n legio van dinge wat klein opgesny kan word of op ‘n stok ingeryg kan word of in die muffin mix ingemeng kan word. Daar is altyd iets al voel dit of daar niks is.
Hoe lui die idioom – “By gebrek aan brood, eet mens korsies van pastei.” Dis bietjie met die lewe ook so. Wanneer jy jouself op die bodem van die put bevind, rock-bottom, is daar altyd iets wat jy bymekaar kan raap en skraap om te oorleef. En dikwels wat ons op daardie onderste vloer vind, is beter as net vir oorlewing. Want op daardie moedverloor se vlakte aan die onderpunt van alles, lê daar altyd diepe dankbaarheid.
Matteus 15:32-39 is die bekende verhaal van die vermeerdering van die brood en vissies. So mooi dat Jesus daardie raap-en-skraapsels by die seun vat en heel eerste Sy Vader dank. Dankie tog vir eenvoudig en nietig, want uit daardie einste nederige plekke word wonderwerke groter as wat jy kan glo of verwag, gebore.
Dis ook wat by die Nagmaal gebeur. Die woord “Eucharist” wat in Engels vir die Nagmaal gebruik word is afkomstig van die Griekse woord eucharistia, wat beteken om “dank te gee”. Want ons weet dat daardie eenvoudige broodskrapsels en naamlose wyn wat ons op die onderkant van die pappot vind, verander in nuwe krag en kreatiwiteit deur God se hand. Die Nagmaal is nie ‘n uitspattige, duur of eksotiese feesmaal nie – dis bedoel vir die armman en -vrou met skuld en skaamte, seer en swaarkry. Wanneer jy rock bottom getref het, herwin God se genade in jou iets mooier en beter, voedsamer en ryker as waarvoor jy gehoop het.
Dis nie net recycle nie, maar upcycle – jy weet jy gaan sterker anderkant uitkom. Dankie tog, is al wat ons kan sug. Daardie is seker een van die mooiste dankies waarmee ‘n mens die lewe voluit kan aanpak.
Jesus nooi jou vandag ook na die tafel toe – nie om jou fyngebak en duur kosblikkos te kom ten toonstel nie, maar omdat jy stukkend is, leeggetap, arm, skeefgetrek en bowenal nederig. Hy soek mense wat aanhou soek na meer, maak nie saak wat nie. Hy soek mense wat die krummels op die vloer bymekaar maak en nie omgee wat ander dink nie, maar wat aanhou glo maak nie saak wat nie. Sy laaste krummels sal jou lewe verander, Sy krummels is die begin van jou wonderwerke.
As jy vandag met jou hande in jou hare sit, platsak of skraps, is dit dalk die beste plek om te wees. Dankie tog vir daardie een ding waaraan ek vanaand kan vashou. Oe, ek weet sommer die Here gaan nuwe lewe bring met Sy kreatiwiteit en volheid en genade!
Dit laat my dink aan die gras wat so afgebrand word langs die pad – dis darem net nie ‘n mooi gesig nie – maar wanneer daardie nuwe groen spatsels te voorskyn kom, is dit die mooiste gesig – selfs beter en kragtiger as die vorige gras.
Dit laat my dink aan die boek Rigters waar die volk elke keer weer verval in ‘n bose siklus van wanhoop en sonde, maar hoe verder hulle val, hoe meer afhanklik is hulle van God om tot hul redding te kom. En al vaal die rigters keer op keer, raak God se oplossing en storielyn net beter en beter.
Spreuke 22: 4 – “Wie nederig is, dien die Here en ontvang rykdom, eer en lewe.”
Jakobus 4:10 “Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”
Met elke dankie tog wat ek nederig op my knieë bid, is daar eksponensiële groei. Beter, sterker, meer. Ek leer myself ken en ek leer die Here ken op dieper en wyer en meer kreatiewe maniere as ek die geleentheid met albei hande aangryp.
Gaan leef dan nou ook so! Al het jy een vriendin by wie jy veilig voel, koester haar. Gooi die ekstra klere in jou kas uit en wees kreatief met daardie kapsule-klerekas. Al het jy net krummels in die kas, bak daardie brood! Pak kosblikke wat lewe gee! Seen die bedelaar met ‘n tien dollar en ‘n glimlag! Moenie meer ongeskik wees met die vrou agter die toonbank nie. Vergewe die persoon wat jou kwaad aangedoen het. Wees die minste... nee, wees die minste, want dis die meeste.
EK IS DANKBAAR VIR:
Brood. Ek weet dis sonde om die woord brood ydelik te gebruik. Dis die eerste ding wat ons los as ons gewig wil afskud of in die mode wil wees. Maar regtig, brood maak alles reg en is nog steeds my go-to vir die kosblik. Ek het eens op ‘n tyd gaan oefen, net om na die tyd daardie heerlike vars brochens by die vulstasie te kon gaan koop. ‘n Plein, taai brochen, dalk met ‘n lagie botter op. En dink net wat alles jy nog daarop kan sit!
Comentarios