HIERDIE WEEK SE TEKS: FILIPPENSE 2:1-18
Die weer het so bietjie begin verander en ‘n mens kan al die reuk van herfs begin kry – of ‘n mens is al lus om ‘n nuwe jas te koop vir die nuwe seisoen. ‘n Stukkie klere wat jou weer mooi laat lyk. Ek staan die week in die spieël van ‘n aanpashokkie en sê vir myself: “Dit gaan goed met jou!” Die jas lyk sommer mooier aan my.
Hopelik het iemand al vir jou ook gesê jy lyk so jonk in daardie kleur of jy straal behoorlik of daai nuwe haarstyl doen iets aan jou gesig. (As iemand jou nog nooit so laat voel het nie, sê dan sommer nou ook vir jouself in die spieël jy het nog nooit so goed gelyk nie... of dis tyd om ‘n nuwe toppie te koop...)
Dit is net soos dankbaarheid van binne af werk. Die gloeiende, blossende effek wat dit op ‘n mens het, word verseker onderskat. Dankbaarheid lyk goed op almal. Dit het ‘n magiese krag wat jou waagmoed gee, selfvertroue, sjarme. Dit tuck en lift op net die regte plekke.
Ek dink daar is min dinge wat ons so baie na God se oogappel laat lyk as ‘n dankbare gees. En daar is waarskynlik niks wat ‘n mens meer onaantreklik maak as die afwesigheid van ‘n dankbare gees nie. Dis nie net omdat jy glimlag en mooi woordjies sê nie... dis omdat dankbaarheid jou so ‘n bietjie terugsit op jou plek, jou nederig maak (veral as jy kleiner voel as die groot dinge wat jou ondankbaar maak)... maar terselftertyd vir jou die eer en erkenning gee, die hef in die hand gee, wat goed lyk en goed voel. Dis ‘n wen-wen vir almal. En dis aansteeklik.
‘n Man het gesien hoe die jong seun staar na sy luukse, duur motor en omdat hy in ‘n goeie bui was, het hy aangebied om die seun vir ‘n draai in sy motor te vat. Die jong man kon nie sy geluk glo nie. “Dis ‘n fantastiese kar, Oom. Hoeveel het dit gekos?”
Die man het nie presies geweet nie... “My vriend het dit vir my as ‘n geskenk gegee.”
Die seun: “Sjoe, dis nice!”
Die man: “Ek weet wat dink jy... jy wens jy het ‘n vriend soos dit gehad, né?”
Die seun: “Nee! Ek wil daai vriend wees!”
Filippense 2 skets vir ons hierdie rolmodel van ‘n dankbare gees in die gestalte van Jesus. Dis hoekom ons dankbaar te alle tye kan wees en dis die beeld wat ons almal wil uitstraal, Hy is wie ons almal wil wees en wat die beste aan ons lyk.
Vers 14:
“Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe (uit) te dra.”
Dink maar aan arme Job en Jona. Ons almal ken hul stories en weet dat hulle gelowiges was... maar as ons aan hulle dink, sien ons miserabele wanhopies wat kerm en kla. Nie een van hulle het ons met hul sjarme verower nie – hulle was redelik onaantreklik as gevolg van hul klaagliedere. In Jona 4 vra God selfs vir Jona of hy dink hy het die reg het om kwaad te raak! Jona het net die negatiewe raakgesien en gekerm en gekla. Selfs toe God die komkommerplant gestuur het om hom te beskerm, was hy kwaad en mislik. Hulle het wel hul omstandighede begin aanvaar en hul stories het goed uitgedraai, maar daar was ‘n deel in die middel waar ek net wou sê: “Komaan Jona, get a life.”
Die model vrou in Spreuke 31 lyk nie so nie:
“Alles aan haar spreek van ‘n sterk edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dan verdien ‘n vrou om geprys te word.”
En as jy dalk ‘n man of broer of vriend moet aanmoedig:
2 Timoteus 1:7 “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.”
Hierdie winter gaan ek nie die siekte van ondankbaarheid aansteek en aanstuur nie. Ek gaan ophou kerm en kla. Regtig, ek gaan probeer. Want soos ‘n dodelike virus wat ons nie kan sien nie, is hierdie sonde besig om ons lewens, ons huise, ons kultuur en ons kerke te besoedel. Dit sit nie so mooi soos ‘n dankbare jas nie. In die plek van kla en teëpraat, gaan ek loof en eer (of stilbly as ek nie iets goeds het om te sê nie).
Hoe straal ek selfvertroue en krag en sjarme uit? Ek hou op kla en kerm en wees dankbaar!
Die wye web het honderde lysies van hoe om in selfvertroue geklee te wees – en van hulle is glad nie te sleg om te deel nie:
Goeie postuur (staan regop!)
Praat stadiger
Bly kalm
Beheer jou emosies en denke
Moenie jou steur aan wat ander van jou sê of dink nie
Behandel jouself met respek
Help ander mense
Lag vir jouself en die foute wat jy maak
Maak oogkontak
Maak moeite met jou gesondheid
Inspireer mense sonder om af te show
Sê nee sonder ‘n verduideliking
Nie bang om ‘n uitdaging of ‘n berekende risiko te neem nie
Dink aan die oplossing eerder as die probleem
Vergelyk nie met ander nie
Hoef nie te veg vir jou reg nie, jy verdien dit
Behandel skoonmakers en base dieselfde
Kam jou hare en was jou gesig
Maak jou skoene skoon
Maak jou bed op
Wees ‘n vars briesie van God se reddende genade, die hart van die evangelie, en mense sal letterlik nader vlok om ook daardie jas in die hande te kry. ‘n Bietjie dankbaarheid het ‘n reuse taak om in ons harte te vervul.
EK IS DANKBAAR VIR:
‘n Jas wat netjies pas. As jy nie soos ek al reeds ‘n nuwe paar skoene gekoop het nie (wat nog steeds druk, maar darem al dra-baar is), skaf vir jou ‘n nuwe jas aan. Ons het almal ten minste een, duursame, “maak ‘n statement”, laat-my-goed-voel jas in ons kas nodig. Dit gee die gevoel van rykdom, luuksheid, warmte en dit beskerm jou teen ‘n wintersverkoue – dit doen vir jou wat dankbaarheid vir die evangelie van binne doen.
留言