top of page
elsabehorn4

SEISOEN VAN DANKBAARHEID - WIE DIT TOEKOM



 

HIERDIE WEEK SE TEKS:  2 Korintiërs 8 en 9

 

‘n Suksesvolle, ongelowige skrywer het eenmaal in ‘n tydskrifonderhoud genoem hoe dankbaar hy gevoel het op ‘n onlangse vakansie met die branders van die see om hom en die skoonheid van die natuur rondom hom.  Die joernalis was egter nie tevrede met die antwoord nie.  Hy wou weet vir wie die skrywer dan nou eintlik dankie sê: vir die mense wat sy boeke koop en hom in staat stel om op duur vakansies te gaan... (alhoewel hulle nie juis die oseaan of die natuur vir hom gemaak het nie); of vir sy vrou... (wat natuurlik nie in die water saam met hom was nie).

 

Sien, alhoewel dankbaarheid ‘n gevoel van vreugde in ons binneste is, en ons weet dat ons oor die algemeen meer dankbaar moet wees, is ware dank gekoppel aan ‘n gewer en ‘n ontvanger.  Dit kom van iemand af en dit word aan iemand gegee. 

 

Thank you. Dank U (wat toe nou dankie geword het omdat ons al hoe haastiger en losser en informeel geraak het oor die jare). 

Of dalk omdat dank nie meer so baie oor die gewer gaan as oor die ontvanger nie.  Solank ék dankbaar voel en ék dankie sê of dankbaar ís, is die saak reg... Moet dan seker eerder dank-my wees...

 

Dis belangrik om weer die “u” terug te sit in dankie.  Veral as ons praat van opregte, ware Christelike dankbaarheid.  Dan het ons dankbaarheid beslis ‘n afkoms en ‘n toekoms, ‘n begin en ‘n einde.  Dit kom van God af as ‘n onverdiende geskenk van genade en ons dankbaarheid moet aan Hom spesifiek gerig wees.

 

1 Kronieke 16: 34
“Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”

Psalm 50:14
“Lof is die offer wat jy aan God moet bring, betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.”

 

Het jy al ‘n dankie opgestuur vir ‘n onverwagse parkeerplek wat oopgegaan het?  Ja beslis!  Het jy al jou hande saamgeslaan en dankie geprewel vir uitslae van ‘n dokterstoets wat negatief was?  Ja beslis!  Of ‘n spietkop wat nie die kaartjie skryf as hy eintlik moet nie...  Ons is almal bly en dankbaar en verheug oor sulke meevallertjies in ons daaglikse ritme, en ons kyk dalk selfs bietjie hemel toe as ons ons dankgebedjie opsê, maar dis nog maar baie ek-gesentreerd.

 

Vandag se teks (2 Korintiërs 8 en 9) is ‘n lang gedeelte en ek is seker ‘n klomp van ons maak nie moeite om die tekste saam te lees nie, maar ek wil jou uitdaag om hierdie twee hoofstukke aaneen as ‘n lekker storie te lees.  Dit verduidelik iets van wat dit beteken en behels om ons dankbaarheid nie te skei van ons gewer nie.  Paulus verduidelik hier vir die Korinte, wat belowe het dat hulle iewers sal betrokke raak en bydrae, dat God se genade ons dryf tot ‘n vrye, oop hand om iets vir iemand te gee, en dat wanneer jy gee, daar ‘n dankie terugkom, en dat elke dankie groei tot meer dankbaarheid en God se oorvloedigheid weer eens erken word. 

 

Wanneer jy opreg dankbaar is vir God se redding, wat nie een van ons werklik verdien nie, sal hy die objek van elke dankie in ons lewe wees – om Hom te erken as die gewer van alle goeie gawes en geskenke en Hom persoonlik daarvoor te bedank.  Wat ookal goed in jou lewe gebeur, en sleg, Hy verdien die eer.  En dan, wanneer ons dankies tot Hom persoonlik gerig is, maak dit ook ‘n persoonlike verskil in ander mense se lewens. 

 

Dis soos die reensiklus.  Op dieselfde manier as wat water uit die lug uit kom, die aarde se dors les en teruggaan na die lug as verdampte vog, veroorsaak ons Christelike dankbaarheid dat God se oorvloedige, onverdiende genade aanhou vloei soos dit moet – met die gevolg dat baie droë harte en verlepte lewens langs die pad opgewek word.  Net as jy jou dankbaarheid tot God rig en dit jou fokus is.  Ware dankbaarheid hang nie net in die lug nie – dit kom van iewers af en dit moet iemand, hier en in die hemel, bereik.

 

Hoe doen ek dit?

·      Erken die seëninge wat ons van God ontvang het (ook die seëninge wat soms in die vorm van probleme en moeilikheid kom)

·      Erken God as die gewer van elke goeie geskenk in ons lewe

·      Rig jou dankbaarheid tot Hom (en ander) vir daardie geskenke

 

Laat dit jou doelwit wees om die dankbaarheid by Hom uit te kry.  In plaas van “Het ek genoeg gedoen vir my kinders?” of “Hoe het ek hier beland?” of “Hoekom gebeur dit met ons?”, moet die vraag op ons lippe wees – “Het ek genoeg dankbaarheid aan Hom bewys?”

 

Is die dankbaarheid wat uit my lewe vloei na ander (tot God gerig) so oorvloedig soos die genade wat in my lewe invloei?

 

Ek onthou toe ons Kersfees by die senior bybelstudie ‘n “Secret Santa” gehou het en almal net ‘n naam getrek het om ‘n geskenkie vir mekaar te koop.  Dit het gehelp om te weet vir wíé jy iets moet koop sodat jy spesifiek iets kan uitsoek, maar ons mag nie gesê het van wie die geskenke kom nie.  Dit was vir my nogal ongemaklik, want jy wil darem vir iemand kan dankie sê.  Dis hoe ons die vrygewigheid en genade en goedhartigheid en dankbaarheid teenoor God se gawes aan die gang hou!  Behalwe as ons skaam is vir die geskenk wat ons vir iemand gee of dink dis nie goed genoeg nie.  Die ouma wat ‘n klein botteltjie Jameson whiskey ontvang het, was baie skaam vir die geskenk en vreeslik nuuskierig om te weet waar dit vandaan kom!

 

Dankbaarheid is om die geskenk van genade uit te deel – vir iemand, nie net in die lug in nie.

 

EK IS DANKBAAR VIR:

Verjaardae.  Op verjaardae kry ons die geleentheid om iemand se lewe spesiaal te vier – ‘n kaartjie met ‘n spesifieke naam op.  Verjaardae, Kersfees, feesvieringe wat ons die geleentheid gee om ons dankbaarheid doelgerig en gefokus te maak... en dit stuur rookseine van dankbaarheid op in die lug.  Dae van vreugde en vrolikheid en samesyn en geskenke gee of medaljes uitdeel.  Lekker.

41 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page