HIERDIE WEEK SE TEKS: Johannes 4: 1-42
Daar is min dinge wat so bekend en deel van ons alledaagse lewe is soos ‘n koppie koffie. Koffie is op almal se lippe en selfs die vriendinne wat nie koffie drinkers is nie, praat oor koffie en kuier saam rondom ‘n koppie koppie, al drink hulle tee. Dis ‘n kultuur, ‘n leefstyl, ‘n studie op sy eie.
Party dae is huiskoffie die beste, maar ek het hierdie week terugverlang na my kelnerin-dae in ‘n koffiewinkel net na skool en tydens universiteitsvakansies. Ek sal enige dag weer uitdraf as ‘n kelnerin – jou voete moeg, jou rug styf en blase op jou hake na daardie eerste dag, maar dis pynlik... lekker. Van die bestelling wat iemand plaas tot die kombuispersoneel wat dit voorberei en ek wat dit op my hande voor die besigheidsvrou of ouma met haar kleinkinders of die alleen jong man wat sy identiteit nog soek, kom neersit. Dis ‘n fees om die mense dop te hou – party onbeskof en haastig, ander besluiteloos, besig op hul fone, baie honger of lus vir iets nuuts. Elkeen met ‘n storie, elkeen met ‘n koffie wat by hulle pas (of nie).
Dis seker hoekom daar iets magies is om na ‘n koffiewinkel of restaurant te gaan – jy besef jy het maar min te doen met die koffie en die broodjie wat op jou tafel beland – jy is net daar om dit te ontvang – dis vir jou spesiaal uitgedink, beplan, voorberei, aangedra en voorgesit.
As jy ‘n lysie van dankbaarheid moet maak, strek dit veel verder as wat jy voor jou sien – en dit maak daardie koppie koffie sommer lekkerder en ryker en voller.
· Dankie vir die kelnerin wat dit vir my aandra
· Dankie vir die verskaffer wat die koppies gemaak het sodat dit nie op my skoot mors nie
· Dankie vir die mense wat die koffiebone rooster en bereid is om die hitte te deurstaan
· Dankie vir die water wat my koppie volmaak
· Dankie vir die plaasboer wat die grond bewerk waarin my koffiebone groei
· Dankie vir die ouens wat daai koffie maal en verpak en vervoer
· Dankie, dankie, dankie
Ek kan skielik verstaan hoekom ‘n koppie koffie so duur is – daar is ‘n leeftyd se diepte daarin vasgevang.
‘n Dankbare leefstyl is slegs moontlik wanneer ons besef dat ander mense (of agente) vir ons iets gedoen het wat ons self nie kon doen nie.
Dis hoekom jy nie lasagne in die restaurant bestel nie, maar kingklip of sushi of iets wat jy nie by die huis kan kry of perfek maak nie. By die huis drink ek filterkoffie; by die restaurant drink ek ‘n cappuccino met ‘n dik lagie skuim of selfs ‘n chai latte al was ek nog nooit in Chailand nie. Dankbaarheid ontspring wanneer ons iets waardevols, die storie-agter-die-storie-van-die-koppie-koffie, erken. Die bron van goedheid is buite jouself.
Ek besef weer opnuut vandag dat ek nie dankbaarheid kan skep nie. Dit is ‘n diepe waardering vir dinge waarvoor ek nie verantwoordelik was nie, wat ek nie uitgedink het nie, wat van buite my eie toedoen gebeur het, waarby ek eintlik glad nie betrokke was nie, maar wat baie spesifiek vir my en met my in gedagte tot stand gekom het.
Ek het sulke mense in my lewe ook – nie almal perfek en volrond nie, maar hulle maak my lewe vol, party is bereid om die vuiste te bal as dit nodig is, ander dek ‘n tafel, lees ‘n teksvers, organiseer, bemoedig. Hulle het my kom soek sonder dat ek geweet het ek het hulle nodig. Dis presies hoe geestelike, Christelike dankbaarheid werk - dit kom na jou toe aangerol wanneer jy besef jy is 'n ontvanger van 'n geskenk meer as wat jy 'n gewer is.
Hierdie week se storie is van die Samaritaanse vrou by die put, wat op die hitte van die dag by die eenvoudige koffiewinkel gaan sit het om haarself te verdrink in haar seer en skaamte en pyn. ‘n Plek wat sy elke dag besoek het, water waarna sy elke dag gesmag het. Sy kyk op en ontmoet vir Jesus en daardie beker water wat sy drink was waarskynlik die soetste, rykste, volste water wat sy nog ooit geproe het. Sy het besef dat niks van dit haar toedoen was nie, sy het nie gaan soek na Jesus nie en alles wat sy in daardie lewende water gekry het, was onverdiend, maar spesiaal vir haar.
Jesus het vir my die beste koppie lewende-water-koffie aangebied op ‘n goue skinkbord, en dit vul my met ‘n oorweldigende dankbaarheid, want ek weet wat daardie koffie gekos het, wat agter dit sit en waarvan ek deel is. Bittersoet soos koffie mos proe.
As jou werk vir jou maar net alledaags geword het, gaan dink bietjie intensioneel aan al die agente wat dit moontlik maak vir jou om daar te werk en daar te wees en voel hoe dankbaarheid in jou opdam. As jou daaglikse koffie vir jou net ‘n gewoonte geraak het, gaan sit bietjie intensioneel en dink aan elkeen se hand daarin vir jou om daardie koffie te kon geniet en voel hoe dankbaarheid oor die rand van jou koppie vloei.
EK IS DANKBAAR VIR:
Koffie. Hoe dan nou anders? Ek aanvaar dit so as vanselfsprekend en dit is vir my so ‘n bekende trooskombers in my daaglikse lewe, maar dis omdat daar soveel moeite en liefde en insette in elke koppie ingegaan het. Ek drink dit met nuwe lus en ek nooi sommer iemand om dit saam met my te geniet. “As long as there was coffee in the world, how bad could things be?” Ja, as ek regtig fokus op dit wat hier voor my is, al is dit hoe klein en nietig en alledaags, gaan ek besef daar is baie minder dinge om oor te kla en te kerm en ondankbaar, skuldig of kwaad oor te wees. So probeer om ook nie so onbeskof te wees met die kelner wat dit vir jou aandra nie. Leef in die oomblik en kies om die rykdom van daardie oomblik te waardeer.
Comentários