Lees saam Lukas 17:26-37. Kan jy onthou wat met Lot se vrou gebeur het?
As jy terugdink aan 2023, wat het vir jou uitgestaan van hierdie jaar, wat onthou jy en hoe kyk jy terug na hierdie jaar?
Kom ons lees wat het met Lot se vrou gebeur. Genesis 19:16-26.
Lot se vrou het teruggekyk, oorweeg, verlang, aandag gegee en 'n deur oopgelos vir haar verlede. Alhoewel sy en haar man goeie mense was wat gasvryheid aan mense betoon het, en sy haar man in al sy aksies ondersteun het, was daar tog 'n stukkie van haar wat verlang het na hul ou, sondige lewe. Toe God haar die opdrag gee om nie terug te kyk nie, toe doen sy juis dit. Op daardie spesifieke oomblik het sy gekies om ongehoorsaam te wees. En sy word verewig in 'n soutpilaar.
As jy 'n "freeze frame" van jou lewe moes maak - hoe lyk jou lewe nou op 3 Desember? Dalk het jy 'n klomp goeie goed gedoen 'n week gelede, of dalk beplan jy om gesonder te begin lewe op 1 Januarie... maar die hier en die nou is baie belangrik. Is jy iemand wat graag uitstel? Of afstel? Ry jy dalk op die prestasies van jou verlede, maar lewe nou 'n baie losbandige lewe? Die hier en die nou is baie belangrik.
Waarvoor onthou ons Lot se vrou? Letterlik vir haar laaste optrede. Waarvoor onthou ons die Maria wat Jesus se voete gewas het? Watter geur/ nalatenskap los jy by mense? Waarvoor sal jy bekend staan?
Alhoewel Christus genadig en vol vergifnis is, vra Hy ook van ons om 'n daaglikse keuse vir Hom te maak. Hy gee wel tweede kanse, maar is jy gereed vir Sy koms as Hy vandag hier sou opdaag?
Christenskap is 'n gemeenskaplike bediening, maar dis ook baie persoonlik. Lot het maar saam met haar man gegaan, maar toe dit op die man afkom, toe het haar persoonlike keuses haar laat sneuwel. Dalk kom jy uit 'n gelowige huis uit... maar dit gaan jou nie red nie. Dalk het jy 'n oulike omgee-dominee wat mooi preek, maar dit gaan jou nie red nie. Dalk het jou gemeente 'n hart van goud... maar dit gaan jou nie red nie. Dalk het jy wonderlike Christen-vriende, maar op die ou einde moet jy persoonlik kies om die Here te volg.
Maak jy daagliks hierdie keuse? Dis nie te laat nie! Vir Lot se vrou was dit te laat, maar jy kan nou en hier jou hart opnuut vir die Here gee.
Muscle Memory verwys na 'n mens se spiere wat oor 'n lang tyd gebou word. Hoe kry mens dit reg om fiks en sterk spiere te hê:
* Gee aandag aan die detail. Maak moeite om God te ken en 'n pad met Hom te stap elke dag
* Doen dit elke dag.
Moenie uitstel nie. Trek aan jou tekkies as jy wil fiks word. Eet die slaaiblaar as jy wil maer word. Moenie verskonings maak en terugkyk nie. Maak in die oomblik die regte besluit.
Lees Filippense 3:13-14.
Gaan dink bietjie:
* In die malle gewoel van Kersfees, maak tyd om iewers op 'n klip te gaan sit en die betekenis van Kersfees vir jou persoonlik te ontdek. Dis nie net 'n mooi storie nie... hoe is dit deel van jou storie?
* As jy enige onafgehandelde sake het - iemand vir wie jy moet jammer sê of moet regmaak, dinge waarvan jy jou moet losmaak - gee dit vir die Here, maak dit toe en beweeg aan. Moenie terugkyk nie - leef uit Sy genade!
* Maak opnuut 'n keuse om in elke area van jou lewe as 'n nuwe mens in Christus te leef.
AMEN.
·
Commentaires