Hierdie tyd van die jaar is vol vrolikheid en opgewondenheid! Wat staan vir jou uit in hierdie tyd van die jaar? Maar hoe voel jy werklik? Terwyl dit 'n baie feestelilke tyd kan wees, kan dit mense ook met diep eensaamheid vul. Nie almal is so gelukkig om 'n kersete saam met geliefdes te geniet nie...
Dis dikwels 'n tyd van alleenheid en verlorenheid... Agter al die vrolikheid, sit daar diep pyn en hartseer, verwerping...
Mense het 'n behoefte aan warmte. Die Bybel praat van gasvryheid. Gasvryheid klink dalk soos 'n perfekte partytjie, maar dit is juis 'n manier om die afvlerk-voëls, verlore skape en lelike eendjies in te nooi na die Kersverhaal. Het jy al soos 'n vreemdeling gevoel by 'n partytjie... of by die werk... of in jou vriendekring? Wat het gebeur en hoe het dit jou laat voel? Aan die ander kant, het iemand jou al ingenooi, 'n deur vir jou oopgemaak, jou deel gemaak en hoe het dit jou laat voel?
Lees hierdie teks, veral vers 2-3. Lees ook Genesis 18. Hoe vergelyk hierdie stories met mekaar? Wat staan vir jou uit? Gasvryheid is 'n opdrag. Dis meer as mededeelsaamheid - dis om jouself beskikbaar te stel om die lig van God te wees in 'n donker wêreld. En in die proses word jy ook geseën deur die teenwoordigheid van God.
Gasvryheid in Hebreers is die Griekse woord Philoxenia - liefde vir die vreemdeling. Xenos verwys na 'n vreemdeling, maar ook 'n gas en 'n gasheer. Dit is die storie van Jesus! Hy was eens 'n vreemdeling, maar het die gasheer geword, Hy het mense bedien, sodat hulle Hom vandag kan dien en mekaar kan dien. Watter mense is daar in jou daaglikse lewe wat dalk vervreemd geraak het van die Woord... wat dalk uitgesluit voel... van die pad afgedwaal het... nooi hulle in!
Gasvryheid berus op hierdie stappe.
Nooi - lewe jy uitnodigend? Kan mense jou bereik, is jy toeganklik, beskikbaar?
Evalueer - maak jy tyd om te luister, uit te vra, gesprekke aan te knoop, hul beter te leer ken? Met wie moet jy 'n koffie gaan drink? Wie moet jy na jou kerstafel toe nooi?
Gee - hoe bedien jy die mense rondom jou - hoe gee jy vir hul rus en was hul voete?
Vertrek - hoe gee jy hoop vir mense sodat hulle dit weer kan uitdeel?
'n Kerkie op 'n bult was die baken van 'n hoop in 'n hawedorpie. Een aand was daar 'n erge storm en die dominee het maar uit gewoonte kerk toe gegaan om die ligte te gaan aansit, maar nie verwag dat iemand sou opdaag as gevolg van die storm nie. Dit was toe ook so. Die volgende oggend, toe die storm bedaar het, was daar egter 'n klop aan die deur. Een van die bemanningslede van 'n skip op die hawe het hom kom bedank. Die vorige nag se storm het dit onmoontlik gemaak vir hulle om die land te sien, maar toe hulle besef dis naby aan half 7 die aand, het hulle geweet die kerk se ligte sou binnekort aangaan. Dit was toe ook so en hulle kon hul pad vind huis toe.
Wat vra hierdie storie van jou as individu? Van julle gesin? Van jou kerk?
In Suid-Amerika vier hulle die Las Posadas Fees tydens Kersfees. Mense loop met hul lanterns en klop vir 8 dae by mense se deure, maar niemand maak oop nie. Op die 9ste dag maak die mense oop en vier hulle saam fees. Dit weerspieël die storie van Josef en Maria wat ook nie plek kon kry nie. Nadat deure in hul gesig toegeklap is, het hulle welkome gasvryheid beleef.
Jesus was eens alleen, uitgeskop en sterf buite die stadsmure... sodat ek en jy nooit weer alleen of afgeskeep hoef te voel nie! Aanvaar jy Sy uitnodiging? Wat maak jy met hierdie uitnodiging? Hoe verander dit jou uitkyk op die lewe?
Ons is God se boodskappers/ "ushers" by die deure. Wat beteken dit vir jou om God se boodskapper te wees? Hoe bring jy hoop en lig, hoe nooi jy mense na God toe met die manier wat jy leef?
BID:
* Laat ek God in my lewe en in my huis en my persoonlike lewe toe?
* Laat ek my geliefdes en naastes geliefd en waardevol voel?
* Sien ek die nood en behoefte aan warmte in my kinders, man en vrou, kollegas se lewens raak?
* Is ek bereid om steed verwelkomend teenoor mense te wees waarvan ek nie noodwendig hou nie, of wat my te na gekom het?
Comments