Ons begin met 'n splinternuwe reeks oor Die Bybel - Die Boek van die Lewe. Vir die volgende paar weke wil ons jou uitdaag om meer te lees - enige boek wat jou iets kan leer, sommer net vir ontvlugting, kreatiwiteit te stimuleer of vir ontspanning. En tesame daarmee ook Die Bybel te lees en weer opgewonde te raak oor die belangrikste boek op jou boekrak.
Watter boek kan jy aanbeveel wat jy die vakansie of onlangs gelees het? Gesels bietjie hieroor. Hoe het dit jou lewe verander?
Vandag kyk ons na die Bybel as 'n Spieël.
Wanneer kyk jy in die spieël en wat is gewoonlik jou reaksie as jy daarin kyk?
Ons kyk na drie verskillende hoeke in die Bybel wanneer daar van 'n spieël gepraat word. Wanneer ons die Bybel lees is dit nie net 'n historiese boek of 'n liefdesverhaal nie - dis 'n drie-dimensionele, lewendige perspektief op God, jy en die lewe waarin jy jouself bevind.
Lees 1 Korintiërs 13:8-13.
Op watter manier dink jy verwys Paulus na die Woord as 'n spieël? Wat staan nog vir jou uit in hierdie teks?
Dinge lyk dikwels vir ons bietjie raaiselagtig en dof, veral aan die begin van 'n nuwe jaar. Dit maak nie sin nie en ons raak gefrustreerd omdat dinge nie uitwerk soos dit moet nie. Wat is die dinge wat jou daagliks frustreer - in die omgewing, dalk selfs by die huis?
Die Korinte het ook 'n perfekte lewe nagestreef en gepoog om hul talente en gawes tot die beste te benut, maar net tot voordeel van hulself.
Paulus herinner ons daaraan dat ons met 'n nederige ingesteldheid na mekaar toe moet draai... en ook wanneer ons die Bybel lees. Jy weet nie alles nie, jy het nie al die kennis nie, jy kan nie oordeel oor ander nie - maar dankie tog dat God jou ken! Wanneer ons geloof en hoop toepas, sal ons liefde vind.
Hoe pas die stukkie van God se plan wat jy dalk al beleef het aan by die mense rondom jou? Net God het die groter prentjie, die volle waarheid, en ons het maar 'n stukkie legkaart van daardie waarheid.
Wat beteken dit vir die manier waarop ons met mekaar en met God se Woord omgaan?
Lees Jakobus 1:21-25.
Hoe word die Woord as Spieël in hierdie teks gebruik? Wat dink jy beteken dit?
Baie mense hou nie van alles in die Bybel nie, want dit wys vir ons wie onsself werklik is. Mense kan dink jy is wonderlik, maar die Bybel se spieël konfronteer jou met daardie areas wat jy self dalk wil vergeet.
Jakobus herinner ons daaraan dat ons onsself ook maar sleg ken en dat ons nie moet wegdraai van dit wat ons in die Bybel van onsself lees nie, maar dat dit ons moet aanspoor tot aksie. Wat doen jy as jy in die spieël kyk en jou rok sit skeef of jou hare is deurmekaar of daar is blaarslaai op jou tande...? Die Bybel is die spieël van die waarheid en ons moet dit ook so gebruik!
As jy nou baie eerlik met jouself moet wees, wie is jy werklik? Watter areas in jou lewe kort aandag? Wat vra God van jou by jou werk, in jou huis, in die omgewing? Wat is jou tekortkominge?
Die eienaar van 'n maatskappy het op langverlof gegaan, maar was maar bekommerd oor die voortbestaan en instandhouding van die kantoor terwyl hy weg is. Hy het weekliks briewe vir die personeel gestuur om hulle te herinner aan alles wat gedoen moet word en die take wat belangrik is. Met sy terugkeer, het die kantoor op sy kop gestaan en alles was ongeorganiseerd en deurmekaar. "Het julle dan nie my briewe ontvang nie?" het hy gevra. "Ons het hulle almal ontvang, meneer. En ons het weekliks bymekaar gekom en dit saam gelees en dit baie insiggewend ervaar!" Maar hulle het niks daaraan gedoen nie. Hulle het net gelees en nie oorgegaan tot aksie nie.
Lees bring verandering en vernuwing na vore!
2 Korintiërs 3:12-18.
Lees hierdie gedeelte. Wie sien ons hierdie keer in die spieël van die Woord? Ons sien nie net onsself nie, maar ons sien vir Christus! Wat staan nog vir jou uit in hierdie gedeelte?
Paulus herinner ons daaraan dat hoe langer ons in die spieël kyk, hoe meer en hoe dieper, hoe meer verander ons na die beeld van Christus en reflekteer ons Sy heerlikheid, goedheid, genade, liefde en barmhartigheid. Te midde van die raaisels en dowwe beelde, sien ons tog Iemand raak - dit is Christus en ons sien onsself deur Sy oë.
As jy hierdie tekste lees, watter beeld kry jy van ander, van jouself en van God? Hoe verander dit jou denkwyse en verstaan van hierdie drie partye?
Tim Keller vertel van sy swaer wat nooit sy veiligheidsgordel wil aansit as passasier in die motor nie en hoe meer hy hom vra, hoe minder doen hy dit. Dis net nie vir hom belangrik nie. Een dag het 'n vriend van hulle verongeluk en hulle het hom in die hospitaal gaan besoek. Met die terugry huis toe, sit die swaer vanself sy gordel aan en Tim vra wat het dan nou verander. "Almal het nog altyd gesê dis veiliger om jou gordel te dra en ek het geen nuwe inligting vandag gekry nie... maar die inligting wat ek gehad het, het vir my nuwe betekenis gekry."
Wat beteken hierdie storie vir jou geloofslewe?
Calvyn, 'n 16-eeuse skrywer en Hervormer het een van sy bekende boeke, die Intuïsie van die Christelike Godsdiens geskryf: Jy kan net jouself leer ken as jy God ken - en jy kan God slegs leer ken as jy ook jouself beter leer ken. Die Bybel help ons met albei hierdie!
BID:
Mag ons nederig genoeg wees om ons eie foute te erken
Mag ons opnuut die dimensies van God in die Bybel ontdek en waardeer
Help ons om met oop oë deur die lewe te gaan
Amen.
Comments