top of page
elsabehorn4

SEISOEN VAN DANKBAARHEID - SÊ DANKIE

HIERDIE WEEK SE TEKS: Lukas 17:11-19

 

Dis sopas Paasfees en daar is soveel om voor dankbaar te wees – Jesus se opstanding, ‘n storie wat goed vir almal eindig, God se liefde, genade, vergifnis, versoening, selfs ‘n paar ekstra vakansiedae, sjokolade, rustyd, familietyd – te veel om op te noem.  Hierdie naweek kom letterlik tot hoeveel moeë en afgematte mense se redding, net betyds.

 

Ek lees weer die storie van die kruisiging en die opstanding en dis opvallend hoeveel mense sprakeloos en lamgelê (heel moontlik met oop monde van verbasing) kyk hoe alles afspeel. 

 

“Dankie” sou ‘n baie gepaste reaksie gewees het.

 

As ek terugdink aan my kinderjare, is hierdie klein woordjie redelik saam met ons eerste vaste kos in ons kele af forseer – jy moes dankie sê vir die tannie en die oom, vir die kos (ook vir jou ouma se kool en boontjies), vir die geskenk (verál die geskenk waarvan jy nie gehou het nie!), vir ‘n kompliment, vir alles!  Ek voel vandag nog ek moet selfs dankie sê as ek geld by die OTM trek of my bewys van betaling in die winkel vir my aangegee word.  Is die winkel nie veronderstel om vir my dankie te sê vir my geld nie?

 

“Dankie” bly die regte antwoord.

 

‘n Week terug het ek begin benoud raak dat ek nie vir ‘n seisoen lank oor dankbaarheid sal kan skryf of praat nie, maar hierdie naweek, nadat ek weer die kruis en die kroon en die leë graf beleef het, het ek geweet ek het nog nie genoeg dankie gesê nie.  

 

Vir party van ons het hierdie eenvoudige woordjie ‘n afgesaagde rympie, ‘n niksseggende vuller geraak, maar dis ook die klein begin van ‘n leefstyl van ordentlikheid, dissipline, gehoorsaamheid en geestelike vervulling.  As ons ons kinders dit nie meer gaan leer en sê nie, gaan hulle ook nie die groter waarde van geestelike dissiplines kan begryp nie.  In die age-of-entitlement is dit blykbaar nie meer nodig om “dankie” te sê nie – jy hoef sommer net glad niks te sê nie, jy hoef nie te reageer of ordentlik te wees nie – die gesprekke is kort en lei tot nie veel meer nie. Ek vang my dikwels hardop dink as ek vir die kinders sê: "Ek soek ten minste net vriendelikheid." Dis tog so - ons gee nie juis om om opofferings vir hulle te maak nie, en verwag nie noodwendig iets in ruil nie, maar 'n "dankie, mamma" (met 'n opregte smile van oor tot oor) sou dit tog beter gemaak het.

 

Daar was ook mense in die Bybel sonder maniere.  In Lukas 17, het almal dieselfde genesing ontvang, maar net een het die moeite gedoen om “dankie” te sê.  Is dit nie so 'n mooi bevestiging van sy geloof nie, erkenning van God se teenwoordigheid in sy lewe, ‘n gepaste respons op die daad wat sopas verrig is nie? Daar sonder is die genesing byna leeg, hang dit in die lug en het dit nog nie persoonlik geraak nie.


Ek dink ek sê redelik baie dankie, maar mag ek tog nie onkant betrap word dat ek net stilbly en wegloop nie. Laat ek maar liewer dankie sê al voel ek dis tydmors, of al weet ek nog nie of ek regtig dankbaar is nie.

 

Nee dankie, “dankie” mag nie uitsterf nie.

 

Jy móét antwoord.  Jy móét reageer.  God se onverdiende wonderwerke aan die kruis vra vir ‘n duidelike respons.  Wel, Hy vra dit nie in soveel woorde nie, maar sjoe, dit sou darem nice gewees het om net “dankie” te sê.  Dis die minste wat ons kan doen en so klein en nietig soos wat dit klink, sluit dit diep geheimenisse oop.

 

Ek lees in Desember ‘n klein boekie oor klein dinge wat ‘n mens vreugde kan verskaf en dis vir my dadelik treffend hoe ‘n mens oor letterlik alles onder die son ‘n opinie kan hê.  Terwyl ons in die motor oppad see toe is, lees ek net die lange inhoudsopgawe se woorde van klein dinge en almal kan saampraat.  Net ‘n enkele woord was nodig om ons emosies en gevoelens te laat kriewel en saampraat. En as ons lank en diep genoeg daaroor begin wonder het,  kon ons selfs iets moois en goeds daaroor begin sê. 

 

Daar is waarlik ‘n woord vir elke dag.  Dankie tog ons Vader gee vir ons elke dag ‘n woord, ‘n stukkie brood.  Hoe wonderlik is ons God nie om so vir ons te voorsien met die fisiese en emosionele nie, maar ook met die geestelike en met Sy Woord.  So wil Hy vir seker hê ons moet in die kar saamgesels oppad see toe oor die klein dinge, dalk net ‘n woord of twee of ‘n sin, om sin te maak van die groter dinge en die lewe. 

 

Toe ek hierdie boekie lees, het ek nie net saamgeglimlag vir die klein dinge wat vir haar uitgestaan het nie, maar ek was dadelik opgewonde om my eie lys van dinge te begin waarvoor ek dankbaar is.

 

So ek nooi jou uit om weer ‘n paar klein dinge in jou lewe te ontdek waarvoor jy dankbaar kan wees, maar dat dit jou ook sal inspireer om soekend na God te wees en jou eie lys van dankbaarheid te maak.  Elke week gaan ons sommer net gesels oor die dieper betekenis van dankbaarheid, ‘n paar teksverse herkou en ten minste een ding opnoem wat onverwags jou hart warm maak.

 

‘n Seisoen van dankbaarheid. 

 

God het gepraat aan die kruis.  Hy praat nou, hier.

 

Die mees gepaste manier om daarop te reageer is met dankbaarheid.  Ons het ‘n verantwoordelikheid en ‘n plig om dankbaar te wees en te leef.  Dis die minste wat ons kan doen. (En in Tessalonisense 5 lees ons dis wat God eintlik van ons verwag - sjoe).

 

Dankie, Here.

 

En wat sê jy as iemand vir jou dankie sê?

 

“Geen probleem. Enige tyd.  Met liefde. My plesier.” 

Dis wat God oor en oor vir my en jou kom sê. 

 

Dankie tog.

 

So, ek maak 'n lysie van dinge waarvoor ek dankbaar is... en hierdie week is ek dankbaar vir:


Woorde.  Sê dit met woorde.  Al is dit nie jou liefdestaal nie, spreek jou waardering uit.  Gee die kompliment.  Reageer op die whatsapp (probeer om meer as ‘n duimpie te gebruik...).  Beantwoord die e-pos.  Wees ten minste ordentlik.  Sê dankie.  En weer.  En weer.

111 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page