HIERDIE WEEK SE TEKS: 1 Tessalonisense 5:1-28
Na verlede week se boodskap, was dit so ‘n aangename klokkie wat afgaan elke keer as ek die bekende woord “dankie” hoor of sien. By tye het ek selfs gebloos asof dit ‘n vloekwoord was wat ek vir die eerste keer hoor... ander kere het ek dit met groot versigtigheid gespreek asof ek skielik bang was ek bedoel dit nie regtig nie. Dit was vir my broos, breekbaar en ongelooflik kosbaar op ‘n nuwe manier. Ek het net opnuut besef hoeveel keer aanvaar ons vanselfsprekend dat mense weet... of nie weet nie... en dat dit so nodig is om dit wat in ons hart is meer gereeld vir mekaar te sê – hard en duidelik.
Dankbaarheid is gepas as jy iets ontvang het. Natuurlik is ons dankbaar vir genade en gerief en voorspoed en God se hand daarin, maar is ons ook dankbaar vir probleme en uitdagings wat God op ons pad toelaat? Nie net dankbaar ten spyte van teleurstellings en omstandighede nie, maar net gedurigdeur in ‘n staat-van-blyheid... Ek wonder...
Is ons dankbaar vir wat God vir ons gee en doen, hoe Hy ons deur moeilike tye dra en help of is ons te alle tye dankbaar vir die God van hemel én aarde, soet én bitter, lag én trane – omdat Hy God is?
1 Tessalonisense 5:18
“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag”
Hoe pynlik dit ook al klink, dit maak sin. Want hoe anders verduidelik ons gelowiges wat deur die eeue heen minder as niks het om te eet en te oorleef, wie se dae gevul is met tragedie en uitdagings, maar wie steeds onuitputbare vrede en vreugde uitstraal?
Ek weet nie hoe goed dit tans met jou gaan nie, maar dis heel moontlik dat ons net 3% of 10% van ons dag (dankie tog daar is nog nie ‘n studie gedoen nie) of solank dit vat om ‘n sjokolade te eet, werklik uit die put van dankbaarheid leef?
Daar is soveel meer wat ons nog nie ontdek het nie. God is soveel meer, soveel groter as net die paar seëninge wat ons kan opnoem wat ons lewe makliker maak.
Die teoloog Charles Spurgeon het eenmaal gesê: “Gesondheid is ‘n geskenk van God, maar siekte is selfs ‘n groter geskenk.” Hy self was baie sieklik en het heeltemal te vroeg gesterf. Alhoewel hy verlang het om gesond te wees, het hy nie ‘n geheim daarvan gemaak dat sy siekte van groot waarde vir hom was nie en dat dit hom die geleentheid gebied het om in sy pyn tot God te kon nader.
Dink maar aan die Psalmskrywers wat soveel mooi liedere en dankbetuigings geskryf het, maar dit terwyl hulle in ‘n put van ellende was. Dink maar aan Jesus – al manier hoe Hy die kruis kon verduur was om op God en die hoop van die toekoms te fokus. As daardie toekomstige vreugde wat Jesus belowe waar en werklik is (en dit is as ons in Hom glo), kan geen omstandighede wat ons nou moet deurkom dit van ons kom steel nie.
Pyn en swaarkry, diepe seer, is nie noodwendig op jou dankbaarheidslysie nie, maar dit hoort daar by nommer twee rond, want dit lei ons na die beste ding op die lys – God self. As ons net gaan dankbaar wees vir die goed wat ons lewe lekkerder en makliker maak, gaan ons ‘n afgod van hierdie lewe begin maak.
Sjoe, ons het nog baie om te groei in ware dankbaarheid – dankbaarheid in alle omstandighede en gedurigdeur.
My kinders noem nou die dag iets snaaks waarvoor hulle my sal onthou – hande vryf. Ek het hierdie klein gewoonte om my hande saam te slaan en vinnig teen mekaar te vryf as ek vir hulle koffie maak of ‘n bord kos warm maak. Asof ek ‘n vuurtjie aan die brand probeer vryf. Ek het nie eens geweet ek doen dit nie, maar dis baie opvallend vir hulle en ek het besluit ek sal redelik tevrede wees as dit is wat hulle van my onthou. Dat ek so opgewonde en dankbaar is elke keer as daar ‘n geleentheid is om vir hulle iets te doen, terwyl dit eintlik dinge is waarvoor hulle dankie moet sê.
Dis dalk hoe ons kan begin om die lewe van dankbaarheid voluit te leef.
Wanneer dit goed gaan, vryf jou hande in opgewondenheid. Wanneer dit sleg gaan, vryf jou hande omdat jy weet daar is ‘n beter plan, dis hoekom God daar moet wees. Elke omstandigheid is ‘n geleentheid om God te dien.
En mag jou kinders en die mense rondom jou jou onthou vir iemand wat haar hande teenmekaar gevryf het – soms in blydskap, soms in ongeloof, soms uit benoudheid, maar altyd in gebed en dankbaarheid tot God.
Die laaste vers wat by my opkom is Matteus 10:39 – “Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.” En net daarna sê hy dat die grootste geskenk (in alle omstandighede) is om God self te ontvang.
Ek dink dis rede genoeg om dankbaar te wees – mag ons in die goed en die sleg en in ‘n seisoen van dankbaarheid ook by daardie besef uitkom!
So, ek maak 'n lysie van dinge waarvoor ek dankbaar is... en hierdie week is ek dankbaar vir:
Skoene wat my hake skuur. Dankie tog dat alle skoene jou nie perfek pas nie, sodat jy nooit te groot vir jou skoene raak nie en op jou tone gehou word. Ek sou verkies dat hulle gemaklik en lekker pas, maar dis gewoonlik daardie paar wat jy baie van hou, daardie nuwe paar, wat jou so seermaak. Hierdie week dra ek myne met dankbaarheid (in die hoop dat hulle sal rek en beter sal pas) as ‘n herinnering dat ek ook dankbaar is vir erger pyn en lyding en in alle omstandighede. (Blykbaar help nat koerantpapier of warm lug van ‘n haardroër om die skoene te rek – to be continued.)
Comments