KRAGTIGE KRUISWOORDE: VADER, IN U HANDE GEE EK MY GEES OOR
- elsabehorn4
- Oct 9, 2023
- 3 min read

Lees Lukas 23:44-49.
Jesus se laaste woorde was toe nie "Dit is Volbring, dit is klaar" nie. Dit was "Vader, in U hande gee ek my Gees oor." Hoe dink jy het die mense naby die kruis daardie dag gevoel met die uitspreek van hierdie woorde en die uitblaas van Jesus se laaste asem?

Het jy al so gevoel? Verslae, verstom, geskok, verbaas, kan-dit-nie-glo nie? Die mense wat 'n verwagting van 'n Verlosser gehad het, het waarskynlik na hul asems gesnak, of asem opgehou omdat hul lewe besig was om in mekaar te tuimel. Waaroor voel jy benoud in jou eie lewe? Bevrees? Bedruk? Hang soos 'n swaar wolk oor jou kop? Die wêreldrekord vir die man wat sy asem die langste kan ophou is 24 minute... dis erg... so dink net hoe krimp jy jou lewe in deur heeldag en aldag oor alles asem op te hou!

Jesus kom bevestig vir ons aan die kruis dat dit nooit verby is daar waar Hy teenwoordig is nie. Hy maak nuut, Hy verander, Hy leef vir altyd. Ons kan dus met 'n geruste hart ons lewe, probleme en vrae in Sy hande plaas.

Lukas 23 verwys ook na Psalm 31 van Dawid. Dawid het ook eens op 'n tyd gevoel dat niks meer sin maak nie en hy homself nie meer kan red nie. Lees dit saam, veral vers 6. Hoe laat hierdie Psalm jou voel?

Jesus het sy asem uitgeblaas in totale oorgawe aan God, wat honderd persent in beheer is. Om vas te klou, kan partykeer baie meer skade aanrig as om te laat gaan. Waaraan hou jy vas wat jy in God se hande wil oorgee? Wie of wat het 'n houvas op jou lewe, waarvan jy vry wil raak? Hier is 'n paar dinge waaraan ons onnodig kan vasklou:
* Valse nuus, negatiewe kommentaar en uitlatings
* Onvergewensgesindheid
* Bitterheid teenoor iets of iemand
* Ou koeie uit die verlede
* Minderwaardigheidskompleks - ek is nie goed genoeg nie
* Hoogmoed - ek dink ek is heeltemal ok op my eie
* Trots

In kort, wil Jesus ons kom bevry van slawerny, die houvas wat mense, ons omstandighede en ander dinge in ons lewe kan hê. Mag jy vandag opnuut kies om 'n slaaf van Christus te wees!

Dit was donker, die aarde het gebewe en die voorhangsel het geskeur. Hoe dink jy het die Hoepriesters gevoel toe die tempel se gordyne skeur? Wat het God daardeur vir hulle kom wys en sê? Net soos die hoepriesters, staan ons onder God se gesag en beheer en het ons direkte toegang tot Hom. Ons hoef nie meer vasgevang te wees in die bitterheid en negatiwiteit rondom ons nie.
Daar breek lig deur die tempelgordyne, daar was 'n stukkie son aan die kruis te midde van duisternis. Dit is die Gees van God wat in ons leef wat ons die krag gee om hoop te hê in hopelose situasies. Jesus het die toue van slawerny kom knip!

Onthou jy die storie van die olifante in die sirkus? As hulle klein is word hul met 'n ketting aan 'n betonblok onder die grond vasgemaak en al probeer hul hoe hard, kan hulle nie loskom nie. Later gee hulle maar op. Die afrigter kan dan net 'n gewone ketting en paaltjie in die grond plant, want al het hulle die krag om los te breek, probeer hulle nie eens meer nie. Hulle is eintlik vry, maar hulle leef nog asof vasgevang. Lewe jy soms so in jou huidige omstandighede? Het die omgewing jou al so kondisioneer dat jou hart nie meer warm klop vir die waarheid van Christus nie? Het jy ook beginn glo jy is nie goed genoeg nie, te klein, te lelik, te sondig, te swak...?

Moenie dat jou gees geblus word nie! Plaas jou gees veilig in God se hande. Onthou jy die geesbeker in atletiek? Jy kan jou werk verloor, jou geld, jou status, jou gesondheid, selfs jou geliefdes, maar nooit jou band met Christus nie. Niemand kan jou hart, jou siel, jou gees blus nie, want dis veilig by God.

Lees Galasiërs 5:1-6. Wat staan vir jou uit in hierdie teks van Paulus? Wat maak jou opnuut opgewonde?
Die fliek Braveheart met Mel Gibson vertel ook die verhaal van totale vryheid. "Every man dies, but not every man really lives" - is dit waar van jou? "They may take our lives, but never our freedom."
Haal asem. Blaas uit in totale oorgawe aan God, meer as wat jy asem ophou oor die dinge en mense wat jou teleurstel en jou vreugde wil steel.
Amen.

Comentarios