Ek het myself altyd as 'n baie goeie beplanner en organiseerder gesien; ek het boonop as 'n groen breinprofiel op skool getoets. Dit is die organiseerder-brein as jy te lank terug jouself laat toets het. Juis paar naweke terug, moes ek inspring as assistent-organiseerder van 'n organiseer-guru en het stilweg gedink - my lewe en my tas is darem nie heeltemal so deurmekaar soos ek gedink het nie.
Maar na 'n woeste naweek van bak-en-brou moes ek aan myself erken ek is absoluut vrot met beplan. Jip, ek is glad nie 'n goeie beplanner nie, maar wel 'n uitstekende planmaker.
Ons lees Vrydagoggend ons laaste hoofstuk uit Hosea - ten spyte van die effe wrang romanse in die boek, is dit harde, kwaai leesstof wat jou bietjie skuldig laat voel en tekort laat kom. Ons is dankbaar Hosea is uiteindelik klaar. Ek moet in elk geval gaan bak - die kuierkafee is daardie aand oop en Saterdag nog 25 mense vir ontbyt. En Sondag... bak-en-brou is deesdae 'n baie bekende verskynsel in ons huis - ek voel soms ek wil iets doodbak of wegbak, maar daar is 'n plan. Dit is dalk juis Hosea se ferm-maar-vergewe, ek-sukkel-maar-daar-is-hoop wat my deur die quiche nagmerrie dra.
Ek hou nie regtig van quiche nie. Ek het al 'n paar baksels geproe wat my opnuut laat besluit het om liewer nie quiche te koop of te bestel nie. Dit is dikwels te veel soos roereier of met 'n taai vel bo-op, die kors rou of te dik. Ek het ook nog nooit 'n lekker quiche gebak wat die paal haal nie. Veral nie as die eiervla so tussen en onderin die deegdop inloop soos wat dit weer hierdie keer gedoen het nie. Dit lyk net nie soos op die prentjies of soos wat jy dink dit proe op die prentjie nie.
Maar die quiche-oorlog was aan. Quiche is op die menu vir Satedag se ontbyt. Of liewer vier quiches, want 4x8 is 32.
Ek het nie eens 'n quiche pan nie, wat nog te sê vier. Ek proe 'n net-soos-ek-dit-sou-wou hê butternut-en-feta quiche van Le Paine bakkery by Donderdag se bybelstudie. Terwyl die bybelstudie dames wil weet waar die wonderwerkie vandaan kom, neem ek skelm fotos van die binnekant en doen tong-tippie toetse, want hierdie ding gaan ek ook bak.
Party van ons is go-getters en klaarmakers, party van ons figure-it-outers en selfmakers. Wie is reg, wonder ek met Hosea se hoofstukke in my agterkop - ook vir jou is daar genade.
"How to bake the perfect quiche crust" googles later is my deeg vars gemaak en in die vrieskas, meer as vier bolle. Die eerste quiche wat ek bak proe presies soos hy nie moet proe nie. Taai eiervla op die bo-kant, plein grillerig. Ek sal nie opgee nie. Omdat ek nie 'n quiche pan het nie, en net twee glasborde wat lyk soos quiche borde, moet ek twee korse blind bak, versigtig uit die bak lig en plek maak vir nog twee korse. Ek kan planne maak. Een van die planmakers maak dit nie tot op 'n ander bord nie - selfgemaakte quiche-kors in flarde op die kombuisvloer. Om nog vars deeg te maak is glad nie so moeilik nie, alhoewel ek toe al moes geweet het die quiche-ery gaan nie op iets goeds afloop nie.
Pampoenblokkies gerooster. Spinasie geblansjeer. Tamatie-konkoksie en bacon-en-uie gebraai. Twee quiches kom pragtig uit en lyk soos die van Le Paine, alhoewel die eiervla langs die kante van die blindgebakte kors ingeloop het - foelie om die kante noem ek dit later karakter. Hosea sou sê dis nie reg nie, maar daar is genade. Die laaste twee quiches wag Vrydagaand laat vir my. Baie laat. Teen die tyd weet ek wat die wenverhouding tussen melk en room en eiers is - baie trots dat al my bestanddele geprep is. Quiches in die oond. Wekker gestel. Lê 'n bietjie toe oë want ek is doodmoeg en die ontbyt is vroeg. Doodmoeg. Vroeg.
Ek weet nie hoe lyk die wit lig wat jou hemel toe vat nie, maar hierdie was nie daardie tipe lig nie. Die lig wat my 05:00 Saterdagoggend in die gang af geneem het reguit na die oond toe nie. Dit was die lig van 'n quiche-nagmerrie. Daardie pragtige twee quiches met hul goue pampoenblokkies en geurige ander goedjies het teen 180 grade celcius vir ses ure lank klip geword. My splinternuwe oond se bokant vol taai bruin spatsels, en ook die kante. Jy kan 'n ding doodgooi met daai quiches. En nou is dit halfses - niks is oop nie, ek wou sesuur al die koffie gaan aansit en die mooi eetgoed in perfekte rytjies gaan uitpak. Kafee toe vir iets cheap en tacky? Sit nog brood en vrugte by? Sny alles in kleiner blokkies? Sê net jammer en gee hul geld terug...
'n Warrelwind kalmte daal oor my neer. Wonderbaarlike kalmte. Ek haal die bakkie koue pampoenblokkies wat ek gisteraand amper weggegooi het uit die yskas. Daar is net genoeg eiers vir twee quiches, een te veel (ek wonder al klaar wat kan mens met daardie een eier optower op ongewenste ure). Die bacon word vervang met Vrydagaand se oorskiet russians wat ook nie veronderstel is om nog in die yskas te wees nie. Alles perfek genoeg vir nog twee quiches, half ses in die oggend. Perfek genoeg. So is God se genade vir jou en my. So, wat is beter - om reg en geregtigheid te leef of om genadig te wees?
Ek weet nie, elke dag is anders, maar 'n ietsie van albei virseker. Genade... besef ek stilletjies tussen Sonja's Flavour Company se pampoenspeserye deur... is om weer 'n kans te kry om reg te maak. Dankie tog.
Hallo en aangename kennis, ek is 'n patetiese beplanner, maar 'n baie goeie planmaker. Krisisbestuurder. Regmaker.
En soos dit 'n ordentlike blog betaam, gee ek 'n VYFPUNT-PLAN wat dalk jou lewe kan red (of makliker maak):
* Quiche moet liewer korter bak as langer. Heelwat korter as 6 ure, maar in elk geval moet hy nog bietjie dril as jy hom uithaal. Hy word styf soos hy staan en proe sysag in die middel.
* Die verhouding tussen eiers en melk/room is 1 eier per 125ml melk. Die melk kan helfte room wees. Dis wat ek gedoen het.
* Le Paine se quiche (en allerande ander gebak) is regtig aan te beveel.
* Omring jou met vriende wat jou menswees waardeer en stilletjies die skottelgoed was.
* Moenie oorskiet weggooi nie. Dit is ongelooflik bevredigend om jou kreatiwiteit na die volgende vlak te neem, iets nuuts uit niks te maak, jou rande te rek en jou yskas skoon te kry sonder om te mors.
Enige quiche resepte?
Comments