Is dit nie so vreemd dat hoe meer 'n mens die reguit pad wil loop, hoe meer word jy deur die vyand aangeval nie? Nes jy voel jy is oor die hond se rug en oppad uit die laagtes uit, spring daar 'n bos of 'n wolf in skaapsklere voor jou in en jy is maar net weer terug waar jy begin het, of selfs trugger - as daar so 'n woord is.
Nehemia het ook agtergekom dat selfs as jy die wil van die Here doen, of diensbaar tot Sy eer is, is daar terugslae en teleurstelling. Soms gebeur dit júís omdat jy agter God aanloop. Dis dan ook wanneer ons sommer wil opgee of weghardloop of wegkruip. Ons begin twyfel en bang raak en spoke opjaag. Maar dis vir tye soos hierdie wat ons in vertrou moet loop en met selfvertroue moet opstaan, opkyk en die uitdagings stormloop.
Daardie spoke wat jou bang maak - dalk uit die verlede, of iets waarvoor jy bang is in die toekoms - dit is net 'n skaduwee wat jou herinner aan die pad wat God met jou stap. As jy oorgegee het aan Hom, sal Hy jou vlerke gee om te vlieg en vere waarop jy kan val.
Iemand wys hierdie week juis vir my uit - "Ons bid dan vir geduld en selfvertroue en selfbeheersing... dan moet daar darem seker rowwe situasies op ons pad gesit word om hierdie geduld en selfvertroue en selfbeheersing te toets, of hoe?" Ons moet juis nie verbaas wees dat daar dinge in ons pad kom staan of die lewe vir ons moeilik kom maak nie. Jy gaan nie geduld nodig hê of kan gebruik as daar nie 'n situasie oor jou pad kom wat jou ongeduldige knoppie druk nie. Ek sal maar mooi dink waarvoor ek volgende bid en vra...
As jy bang is vir die verdrukking op jou pad, weet jy is nie alleen nie. As jy nie meer kans sien vir al die teleurstellings en terugslae nie, staan op en stof daai stukkende knieë af - hou moed, hou koers. Aanstap rooies (en bloues en groenes), die pad is lank en swaar, maar jy is nie alleen nie. Die muur moet klaar, die stad moet opgerig word, daar is werk en jy is deel van die nuwe Jerusalem wat God besig is om te bou.
Comments