Ek word weer hierdie week op Facebook herinner aan 'n aanhaling wat ek twee jaar terug in 'n boek gelees het terwyl ek besig was om aan my tesis te werk.
Die aanhaling:
"The proper answer to political correctness - from left to right - is to speak the truth, regardless of its source. Your worst ideological or theological enemy can be right... your best ideological or theological friend can be terribly wrong.
And the knowledge of that reality should keep our minds and hearts open to discovering truth even in the most unlikely of places and from the most unlikely of people..."
Soos met enige akademiese skrywery, lees jy swaar aan alle woorde en klink meeste leesstukke soos 'n stukkie politiek met 'n moeilike geskiedenis. Gewigtige woorde. Woorde wat 'n miljoen dinge kan beteken en honderde gevoelens kan oopkrap. Net soos hierdie aanhaling.
Hierdie week het ons saam Paulus in die lewe van die Korinte gaan rondkrap en besef ek ook opnuut weer die eenvoud van hierdie aanhaling - ons is nooit te oud of te grênd of te ryk of te diep om te leer nie - by mekaar. Dis heeltemal ok om nie te weet nie, om nie te ken nie, om te erken jy skiet tekort nie. Daar is iets baie besonders aan daardie besef.
Die Korinte, wat 'n gemeenskap met wonderlike aspirasies en strewe na sukses was, het toe nou ook nie alles gehad nie - die eenvoudigste dinge kon hulle nie regkry nie - liefde, wedersydse respek, deernis, samewerking, geloof in God.
Eenvoud is eenvoudig mooi, funksioneel, prakties, genoeg. Dit besef ek ook hierdie week terwyl ek die dinge van 'n huis waar ons 16 jaar gebly het probeer uitdeel en weggee en verkoop. Dis wraggies bevrydend - sal weer laat weet hoe voel ek na 6 maande as ek na oulike tafelversierings soek wat ek nie meer het nie - maar vir nou is dit lekker om 'n kas oop te maak en daar staan ses perfekte wit borde en bakkies sonder enige chip-randjies. Nie te veel, nie te oud, nie te stukkend - net reg en net genoeg.
Geniet die eenvoud van 'n pad met Christus. Geniet die eenvoud van min goeie vriendinne, die handjievol mense wat jou gereeld bel of die enkele seeninge wat jy kan tel. Geloof, hoop en liefde - dis al - al klink dit meer romanties as die water, brood en melk waaruit jou eenvoud dalk bestaan.
Ek sê vanaand dankie vir die handjievol vriendinne. Vir klein groen boekies wat jy op enige plek kan lees. Vir 'n paar mooi woorde waaraan jy vir 'n week kan vashou en van kan leef. Dankie tog dat die Here nie al die enorme en uitspattige wense wat ons het laat realiseer nie. The simple life - dit ís so eenvoudig - dit het ek by die Korinte geleer, wat eenvoudig nié eenvoudig was nie, maar onnodig selfsugtig en gekompliseerd.
Mooi week.
コメント