top of page
elsabehorn4

45 - SONDAG, 14 JANUARIE 2024



Ons is skaars twee weke in die Nuwe Jaar in en baie van ons is al klaar moedeloos, ongeduldig, kort van draad... na 'n baie lekker of baie lang of baie rustige vakansie. Jy dink dat sekere dinge op 'n sekere manier moet gebeur, en dan is daar reeds weer teleurstellings, struikelblokke. Ons hou maar net nie daarvan as dinge nie uitwerk soos wat ons verwag of beplan het nie.


Habakkuk was ook diep teleurgesteld omdat dinge nie uitgewerk het soos wat hy wou hê nie. "Hoe lank nog... waarom moet ek wag... wanneer...?" het hy gevra. Dis maar moeilik om vas te byt en te vertrou as jy nie weet wat kom volgende nie. Dit voel soos valskermspring of met 'n blinddoek die volgende treë gee.


Habakkuk kon nie om die hoek en om die draai sien nie, maar dankie tog God kan. Sulke oomblikke dwing 'n mens tot stilstand en net weer 'n nederige besef dat daar Iemand groter en magtiger is. Dinge wat buite jou beheer is. Jy is maar net 'n mens.


En partykeer vergeet ons dat dit okay is om maar net 'n mens te wees. Sonder rooi lippe en 'n goue balkie, 'n adres en 'n geskiedkundige van, 'n titel, 'n kroon, 'n bankbalans. Sonder enorme planne vir die jaar. Net mens. Ek dink een van God se grootste verwagtings vir ons hierdie jaar is dat ons dit sal besef. Dat ons rustig sal raak, asem sal haal en partykeer vir 'n oomblik op die rusbankie by die stasie sal sit en wag laat Hy wees wie Hy is. Grote God. Magtige Koning. Liefdevolle Vader.


Mag jou week gevul wees met nederigheid, rustigheid en 'n diep afhanklikheid - jy hoef nie al die idees uit te dink, die besluite te maak en dit te laat realiseer nie. Jy mag wag!

16 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentários


bottom of page