Dis 'n Nuwe Jaar, en al word die los stukkies van 2023 maar net weer opgetel, en bou ons voort op die fondasies wat al klaar daar is, voel dit tog soos nuwe hoop, nuwe blaadjie, skoon begin. Ook as dit by ons geloofslewe kom. Dankie tog vir tweede kanse en dat die Here weer eens genadig teenoor ons is vir ons luiheid, traagheid, uitstel en afstel aan die einde van die jaar.
Ek hoop hierdie maand is ook die begin om weer jou geestelike dissiplines af te stof en met hernude passie agter Jesus aan te loop. As jy dalk bietjie weggeraak het met die Bybellees, begin sommer hier en nou en lees saam met ons vir die laaste maand of twee wat oor is van ons program (ja, Openbaring is amper hier!)
Ons lees hierdie week wat kom sommer tjop-tjop deur 'n paar profetiese boeke, kort en vinnig - van hulle het ons al lankal van vergeet. Maar in daardie klein stukkies lê diep waarhede. En as jy bereid is om die klein treetjies getrou te gee, sal jy gereed wees vir die groottes.
So aan die begin van die jaar word ek bemoedig deur Joël wat ons laas week gelees het. 2023 mag dalk nie so watwonders gewees het nie, jy mag dalk lang trane huil, diep plooie frons, bang, onseker, woedend, teleurgesteld, verbaas, skuldig voel... maar God gaan dit omdraai. Joël 2:25 bring daarom hoop vir 2024 - man, ek voel sommer verlig en lig soos 'n veer:
"Ek sal julle vergoed vir die tyd
van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm
toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het,
julle verteer het.
Julle sal oorgenoeg hê om te eet,
julle sal die Naam van die Here julle God prys,
Hy wat wonders vir julle gedoen het.
My volk sal nooit weer in die skande kom nie.
Dan sal julle besef dat Ek by Israel is,
dat Ek die Here julle God is,
dat daar buiten My nie 'n ander is nie.
My volk sal nooit weer in die skande kom nie."
Jona wat ons hierdie week lees het sy eie plannetjies gehad, dalk net aan homself gedink. Dalk is jy ook reg om hierdie jaar storm te loop en planne te begin maak, lysies en doelwitte en voornemens... maar Jona gaan regtig eintlik oor God se planne - het jy Hom al gevra wat Sy verwagting van jou is hierdie jaar? Wat is Sy wil vir jou en vir my? Spreek Here, U dienaar luister en staan vol verwagting vir wat U beplan vir 2024.
Mag die klein profete jou diep en persoonlik kom tref met hul lewens, maar bowenal die vertrekpunt wees vir meer en dieper. As jy hierdie week sommer 5 Bybelboeke kafdraf, mag dit jou daardie inspirasie gee vir nog, die hupstoot wat jy nodig het vir 'n great jaar van Bybellees en geestelike verdieping.
Ek sien die boek "Atomic Habits" is 'n topverkoper op die rak - ek weet want ons moes almal 'n boek lees die vakansie en dis wat my oudste gekies het om te lees. Ek hou sommer van die titel - atomic klink na 'n reuse ontploffing - hopelik gebeur daar sulke groot goed hierdie jaar vir jou, soos wat ek weet my seun wens daar vir hom gebeur... Maar atomic beteken ook die kleinste deeltjie van alle lewende dinge - wat ek stilweg hoop is wat hy gaan leer hierdie jaar...
Comments