top of page
elsabehorn4

41 - SONDAG, 17 DESEMBER 2023




Ons verwag om iets in die klaskamer of op universiteit te leer, in die kerk of by ons oumas en oupas... maar dit is dikwels op die ongewoonste, vreemdste plekke en in die onverwagse, onbeplande situasies waar ons die meeste leer - oor die mensdom, oor onsself en oor God. As jong student is dit nie lekker om te hoor jy het ervaring nodig voordat jy die werk kan kry nie... maar ervarings (goed of sleg) is tog wat van ons wyser, sterker en meer volwasse maak.


Ek het 'n vriendin wat al 'n paar goed studeer het in haar leeftyd, maar sy het nog niks geword nie. Sy het nie 'n beroep met 'n titel nie, alhoewel sy werk. En sy begin al klaar weer ondersoek instel oor wat sy in die nuwe jaar kan studeer. Mors van geld? Besluiteloos? Dit mag dalk soms die geval wees, maar dis eintlik nie 'n vreemde konsep nie. En het niks met luiheid te make nie. Ons is ewige studente en dis heeltemal ok, eintlik reg, om nooit te "arrive" nie, maar net van die een leerskool na die volgende te beweeg in die poging om jou volle identiteit te ontdek en ontwikkel.


In die boek van Esegiël kry die profeet 'n roeping en 'n bepaalde taak van God - dit is anders as jou taak as ma, onderwyser of besigheidsvrou... dis 'n rol wat jy lewenslank in groei.


Of jy nou 45 of 20 of 65 is, jy is nooit te jonk of te oud om te leer - en iets nuuts te leer nie. Hier is 'n paar lesse uit Esegiël se lewe wat ons maar weer 'n keer moet leer (en hoor):


1. Dit begin by God. 'n Sterk fokus en diep verlange om Hom eerste te plaas. (Esegiël 1:28)
2. Sukses lê virseker nie in nommers en getalle en prestasies nie. Dit lê in vasbyt, vertroue, volharding, gehoorsaamheid. (Esegiël 3:7-8)
3. Jy mag dalk nie hou van wat God jou vra om te doen nie. Dis virseker nie altyd maklik en pas nie altyd by jou behoeftes, gawes en hart in nie, maar as God dit op jou hart druk om iets te doen wat uit jou gemaksone is, moet ons gehoorsaam wees.
4. Verwag teenkanting. Jy gaan definitief nie altyd gewild wees omdat jy Christelike waardes of beginsels navolg nie. Mense gaan jou snaaks aankyk, jy gaan teenkanting en kritiek beleef, jy gaan soms alleen voel en staan, maar dis nie nuus nie. Weet dit, verwag dit, vat dit. (Esegiël 2:6)
5. Jy het 'n verantwoordelikheid. Op die einde het jy 'n rol om te vervul en dis jou persoonlike verantwoordelikheid. Jy kan nie in die bondel wegkruip, laat-gebeur-wat-gebeur nie of weghardloop as daar moeilike dinge op jou pad kom nie. Daar is tye wanneer ons moet opstaan, vorentoe beur en vasstaan, al voel dit hard en koud.

Wat was een van die waardevolste lesse wat jy al moes leer in jou lewe? Watter onverwagse lesse het jy al op onverwagse maniere geleer? Hoe help dit jou om die toekoms aan te pak?


Mag jy opnuut Goddelike krag ontvang om 'n lewenslange student in die leerskool van die lewe te wees - jou studies met passie en deursettingsvermoë te voltooi en uit te sien na die hemelse graad wat reeds jou naam op het!





9 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page