40 - SONDAG, 10 DESEMBER 2023
- elsabehorn4
- Dec 11, 2023
- 2 min read

Dis Kersfeestyd en dis so lekker om vir mekaar iets te kan gee. Maar gee is nie altyd maklik nie en gee is dikwels ondankbaar. Jou beste bedoelings en intensies word ongesiens ignoreer of in jou gesig teruggegooi of gaan in 'n bodemlose put in.
As 'n ma voel dit soms vir my ek gee teen 'n muur vas. Jou kinders waardeer dit nie, vat dit nie, verander en groei nie soos wat jy sou verwag nie. Die mense wie jy moet leer, luister nie altyd nie, doen nie altyd wat jy sê nie. Soms werk dit, soms voel jy soos 'n totale mislukking. Gee, gee, gee, maar is dit die moeite werd?
Elkeen van ons het iemand vir wie ons in 'n mate verantwoordelik is. As 'n ma is jy verantwoordelik vir die kinders aan jou toevertrou. As 'n onderwyser, is jy verantwoordelik vir die leerlinge onder jou toesig. 'n Dominee vir die lede en soekendes wat oor jou pad loop. As skoonheidsterapeut vir die kliënte wat by jou salon instap. Ons het 'n verantwoordelikheid om 'n positiewe, opbouende voorbeeld vir hulle te wees en ons kennis en vaardighede met hulle te deel. Dis deel van jou roeping: hoe deel ek met ander wat vir my toegedeel is.
Esegiël het ok 'n spesifieke taak van God ontvang om Sy Woord aan Israel te verkondig. Daarmee saam het God gewaarsku dat Israel hardkoppig en hardhorend sal wees en dat hul die boodskap nie met ope arms gaan ontvang nie. Maar Esegiël kon nie sy hande in onskuld was nie - dit was die taak aan hom opgedra.
Het jy al gevoel dat jy net gee en gee en niks terug ontvang nie? Vir al die goeie intensies wat jy het, is daar net negatiwiteit, teenkanting of geen reaksie. Daardie verwerping is niks lekker nie, en boonop as jy sien hoe jy kon help, maar jou hulp word net nie aanvaar nie en hulle gaan aan op die verkeerde pad. Dit bly jou verantwoordelikheid, jou werk, die taak aan jou opgelê en of hulle luister of nie, jy moet aanhou klop aan daardie deur.
Mag Esegiël se opdrag jou inspireer om aan te hou die waarheid praat en leer. Moenie opgee op die opdrag wat God jou gegee het nie. Moenie ophou aanmoedig en gee nie. Dis nie altyd suksesvol in jou oë nie, maar God werk wondere deur jou gehoorsaamheid.
Weet jy wie en wat aan jou toevertrou is?
Is jy banger vir die verwerping as dat jy ongehoorsaam aan jou roeping is?
Hoe gaan jy hierdie verwerping en teenkanting anders hanteer?
AMEN.
Comments