top of page
elsabehorn4

39 - DIE LEWE VAN JEREMIA


Die Klaagliedere van Jeremia is nie 'n maklike boek nie en die worstelinge wat ons daarmee het, verwoord iets van die worstelinge wat Jeremia met die volk beleef het. Die boek is nie 'n narratiewe storie nie, maar eerder 'n versameling van werke en skrywe wat die profeet Jeremia se getuienis van God se oordeel en genade beskryf - daarom al die herhalings wat 'n mens in die boek kry. Jeremia het as't ware met God se inspirasie en aanmoediging al sy preke, gedigte en opstelle wat hy oor 'n tydperk van 20 jaar gepreek het, bymekaar gemaak en neergeskryf met die hulp van Baruch, sy skriba wat ook 'n paar stories bygesit het om Jeremia se roeping volledig te maak.


Die eerste 25 hoofstukke gaan oor God se oordeel en die waarskuwing van vernietiging. Hoofstuk 7, wat bekend staan as Jeremia se tempel rede, waarsku die tempelgangers dat God vernietiging gaan saai oor die dubbele lewens wat die volk lei. Hulle luister nie.


Dit wil voorkom asof God regtig donkerte oor die volk gaan laat daal en heel moontlik die verbond wat hy met Abraham gemaak het, gaan breek. Die volk toets God tot op die uiterste en verdien hierdie donker verlatenheid, maar in die middel hiervan is daar ook 'n boodskap van hoop (Hoofstuk 30-33). Net soos Moses belowe het dat God nie Sy mense sal verlaat nie, herinner Jeremia dat daar 'n nuwe verbond sal kom wat hul harte sal verander. Dit is natuurlik die Kersboodskap van die Messias Jesus Christus wat die nuwe verbond bring.


God los geen toutjies onafgehandeld nie. Die Babiloniërs wat die Israeliete verwoes het, gaan ook nie ongeskend wees nie. Een van die langste gedigte in die boek van Jeremia (Hoofstuk 50-51) verwys na die oordeel wat Babilon ook gaan ontvang as gevolg van hul geweld en afgodery.


Aan die einde van die boek, word die Israelietiese koning Jehoiachin gevange geneem en dit lyk tog of God nie meer in beheer is nie. Maar selfs dan, na dekades, laat die Babiloniese koning hom vry en laat hom selfs aan sy koninklike tafel aansit.


Dit lyk soms vir ons of God ons verlaat het, veral as die een slegte ding na die ander in ons lewens gebeur. Dit maak nie saak hoe donker jou lewe lyk of voel nie, God het jou nie alleen gelos nie en Hy gaan ook nie. Jeremia wys vir ons die harde realiteit van Israel se verlede, maar ook die hoopvolle beloftes van 'n mooi toekoms.


Daar waar jy vandag terugkyk op 'n lang jaar - dalk vol teleurstellings, mislukkings, foute, uitdagings, hoë berge, diep valleie, hartseer, woede, spyt en skuld - het die Here jou gedra tot op hierdie dag. Wat nou? Hierdie dag is die kans om 'n nuwe verbintenis te maak, om die onafgehandelde dinge van die jaar af te sluit, weg te bêre, toe te maak sodat jy kan vorentoe beweeg saam met Christus. Die keuses wat jy vandag maak gaan bepaal of jy gaan deel in die blink toekoms wat God beplan. Dis 'n daaglikse keuse, moenie dink aan hoe dinge jare terug was of hoe jy hoop dit gaan wees nie - wees nou gereed en vertrou nou die Here op hierdie oomblik.


Amen.

28 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page