top of page
elsabehorn4

38 - SONDAG, 19 NOVEMBER 2023


In hoofstuk 18 gaan Jeremia na die pottebakker om sy handewerk te aanskou en vind daar dat die kunswerk in die hande van die pottebakker "flop" en hy van voor af begin om iets te maak uit die klei. Ons het al almal iewers soos 'n flop, 'n mislukking, 'n hopie teleurselling gevoel. Koeke wat flop is dalk nog lekker, maar planne wat flop is minder lekker. Jeremia se storie herinner ons daaraan dat God ons te liefhet om ons te laat gaan, hy kan altyd iets nuuts maak uit jou omstandighede.


Niks en niemand leef vir altyd nie. Dankie tog dat ons mislukkings ook nie vir altyd duur nie - dit gaan verby! God maak dit egter nie tot niet en laat dit sterf nie - Hy gebruik daardie flops as voorbereiding vir iets nuuts. Die dooie dinge word kompos in die grond - en uit die kompos groei daar mooi nuwe blomme.


Ek onthou hoe ons op skool "trench beds" agter die skool se swembad moes in stand hou. Dit was as skoolkind met netjiese hare en skoon klere 'n ondankbare taak om vrot piesangskille en eierdoppe in die grond in te werk - dit het sleg geruik en 'n vreemde gevoel in jou keel laat prikkel. Maar wat 'n aangename verrassing as daardie rommel in nuttige, korrelrige kompos ontaard met die belofte van groei en gesondheid.


Die Bybel is vol beloftes van waardelose, uitgewerkte, slegte persone en situasies wat tot iets nuuts herwin is. Dit is wie God is. Hy gril nie vir jou gemors nie - Hy hou nie daarvan nie - maar Hy is meer as bereid om dit te omskep in iets nuuts.


Kyk terug op die foute van hierdie jaar en weet dat die begin was van iets nuuts. Niks hou vir ewig - ongelukkig nie - maar ook dankie tog nie! Alles is klei in God se hande - mag Hy iets baie mooi en nuut uit jou gemors maak - iets wat jy met prag en trots met die wêreld kan deel.



24 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page