top of page
elsabehorn4

37 - SONDAG, 12 NOVEMBER 2023





Die volk het verskriklike goed gedoen in Jeremia se tyd. God se straf en oordeel was ook verskriklik. Ek dink dat hulle bang en vreesbevange was.


In Handelinge gebeur daar verskikriklike goed met Paulus wanneer hy die goeie nuus wil deel en sien ons duidelik God se groot en kragtige hand in die verspreiding van die evangelie.


Verskriklike dinge. Maar 'n groot God. Nie net groot in oordeel en straf en heerskappy nie, maar ook in genade. 'n God wat so jaloers is op Sy kinders, op geregtigheid, op die goeie nuus, dat Hy tot aan die kruis sal sterf om hulle te red.


Hierdie week het ons Jeremia en Handelinge saam gelees - twee heel verskillende wêrelde. Ons lewe dikwels in Jeremia-tyd - sien net die slegte raak, gespanne oor die dag van môre, hopeloos, in vrees en bewing, dit sal nie werk nie, skuldig, skaam oor wat ons al weer gister gedink en gedoen het, nie goed genoeg nie, te bang om die berg te klim, kyk weg, kruip weg, baklei met mekaar, is negatief.


Maar dan onthou jy genade. Genade onbeskryflik groot. Dit maak die harde realiteite sagter, die seer minder pynlik, die kwaad rustiger, die lewe mooier. Dalk moet jy met genade na jouself in die spieël kyk hierdie week.

Ek lees hierdie week hoe maklik ons onsself kan slegsê en verkleineer - voor ons kinders - en hoe moeilik dit is vir hulle om dan 'n ander kant van hulself te sien - want hulle is tog ons ewebeelde. Veral as iemand nog sê: "Jy lyk nes jou ma." of "Sjoe, jy aard so baie na jou ma."


Jy kyk dalk vas in die verkeerde dinge wat jy al gedoen het, maar God sien hoe Hy die verkeerd met genade in liefde kan omdraai.


Dalk moet jy genade gaan uitdeel aan iemand wat jy veroordeel het.


Dalk moet jy God se genade opnuut ontvang.



Jeremia 15:19

Die Here het toe gesê:

As jy jou woorde terugneem,
sal Ek jou weer in my diens neem.
As wat jy sê, waarde sal hê
en nie onsin sal wees nie,
sal jy weer namens My kan praat.
Die mense moet jóú volg,
nie jy vir hulle nie.
20Ek maak jou vir hierdie volk 'n bronsmuur
waardeur hulle nie kan dring nie;
hulle sal teen jou veg, maar hulle sal jou nie oorweldig nie,
want Ek is by jou, sê die Here,
Ek sal jou help en jou red.
21Ek sal jou red uit die mag van slegte mense,
jou bevry van dié wat op geweld uit is


Mag jy ook bevry word uit die mag van kwaad en seer en haat en straf - en vasgevang in die mag van genade.

8 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page