Waar trek ons die streep? Wie moet jy help en wanneer is iemand regtig in nood? Is dit hul eie skuld dat hulle in sulke situasies beland het, help ons hul ellende aan deur 'n druppel in die emmer te gooi of bly dit ons Christelike plig om te help, te gee, te nooi, te dien?
By hierdie week se senior burger bybelstudie gaan die gesprek dadelik weer na hierdie tweestryd - dis die mees gewilde onderwerp by Donderdae se bybelstudies en die tannies en ooms is uitgemaak oor wanneer hulle gee en wie hulle nie help nie.
Maar dan lees ek Jesaja 58 en kry 'n knop in my keel. Die Israeliete vas van hul sondes, maar hulle versuim om vir die hongeres brood en vir die dakloses huisvesting te gee. Hulle vas van hul sondes, maar slaan vanaand vuis en draai hul rug op mekaar.
No questions asked, dis deel van die pad wat ons moet stap agter Christus aan. Nie bietjie hier, bietjie daar nie, dis alles of niks. Dis volledig en altyd of dis dan sien ek liewer nie kans vir die pad nie...
"As jy nie op die sabbat oortree nie,
op my heilige dag doen net wat jy wil nie,
as jy die sabbat 'n vreugde noem,
as jy die heilige dag van die Here in ere hou,
as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie,
nie te doen net wat jy wil nie,
en nie handel dryf nie,
sal jy vreugde vind in die Here."
Die sabbat is nie net Sondae nie. Die sabbat is nie net wanneer die mense vir jou kyk in afwagting en hande klap nie. Die sabbat is nie net in die geselskap van die gelowiges en hoog heiliges nie. Die sabbat is in jou binnekamer, op straat, by die werk, in moeilike en maklike tye.
Dit is nie maklik nie. Hoe kry ek dit reg? Hoekom gee ek... hoekom gee ek nie? Ek dink - dink groot. Nie moet ek gee of moet ek nie... gaan dit help of gaan dit nie... dink God. Dink aan wie Hy is. Dink aan Sy wil, Sy woord. En hoe wys ek, wees ek God vir ander... is dit nie die opdrag wat ons van Hom gekry het nie? Dalk help dit jou om uit gehoorsaamheid op te tree...
Ek wil hierdie week die Here vra dat Hy my sal help om meer soos Hy te wees, om elke dag die sabbat te onderhou in my doen en late, nie bietjie hier en bietjie daar nie, alles of niks.
Want dan:
"...sal die Here jou altyddeur lei;
selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien.
Hy sal jou sterk maak.
Jy sal wees soos 'n tuin met volop water,
soos 'n fontein waarvan die water nie opdroog nie.
12Jou mense sal die ou puinhope herbou,
die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan.
Jy sal bekend staan as 'n volk wat sy afgebreekte mure herbou,
wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon."
Sterkte met die klein keuses en besluite wat jy ook hierdie week moet maak.
Comments