Loadshedding is 'n gewigte woord wat nie ligtelik deur die mense sonder krag opgeneem word nie. Alhoewel ons self nie daagliks daaraan blootgestel word nie, voel ons die pyn en wil ons onsself nie 'n dag sonder barista koffie, gesmelte kaasbroodjies en bedlampies indink nie.
Ons wil ons nie indink hoe bitter dit moet wees sonder water en elektrisiteit nie, maar dink jy ooit daaraan hoe bitter 'n hart sonder Goddelike krag sou wees? Die lig van God is juis daar om ons weer aan beterskap te herinner wanneer die lewe bitter, sinies en krities geraak het.
Een van my gunsteling tekste in Jesaja 40 kom herinner ons aan waar ons krag vandaan kom - ja, ook in warm Oktober:
Jesaja 40:26 - "Weet jy dit nie?
Het jy dit nie gehoor nie?
'n Ewige God is die Here,
Skepper van die eindes
van die aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie –
ondeurgrondelik is sy insig.
29Dit is Hy wat vermoeides krag gee,
wat lewenskrag vermeerder
vir dié wat geen vermoëns het nie.
30Jong seuns word moeg
en raak afgemat;
jong manne struikel en val.
31 Maar wie op die Here wag,
herwin hulle krag;
hulle kry nuwe vere soos arende.
Hulle hardloop,
maar raak nie afgemat nie,
hulle loop,
maar word nie moeg nie.
Ons vlammetjies mag dalk flou wees hierdie tyd van die jaar en jou tong op die grond, maar hoe bitterlik droog moet 'n hart en siel wees wat nie met Jesus gepetrol word nie...
As jy afgemat en oorlaai voel, hier is BRANDSTOF vir jou hart:
* Dankbaarheid. Wees so bitterlik dankbaar dat al het jy nie 24 uur krag nie, het jy hoop en genade
* Tevredenheid. Wees tevrede in God, en besef dat niks op aarde jou die krag kan gee wat Hy gee nie... en niks kan ook jou krag uitput soos 'n put sonder geestelike water nie
* Geduld. Wees geduldig met jou futloosheid - jy is dalk geirriteerd met jou floute, maar dit leer jou uithou, aanhou, beheer uitoefen, verandering bring
* Vreugde. Dis nie 'n gevoel nie, dis meer as 'n houding, dis 'n uitdrukking ten spyte van wat jy voel.
* Perspektief. Terwyl jy nie 'n lig kan aansit nie, is sowat 1 uit 10 mense ondervoed, waarvan meer as 'n honderd miljoen onder 5 jaar oud; terwyl jy nie krag het om jou kinders se huiswerk te doen nie, is daar steeds meer as 3 biljoen mense wat nie die evangelie van Christus gehoor het nie; al het jy nie die krag om 'n uitstaande rekening en 'n kritiese epos te hanteer nie, lewe een uit vier mense op minder as N$20 'n dag. Jy het krag, al voel dit nie so nie.
Dit klink dalk bietjie dramaties, en ja, ons vroue kan 'n bietjie in die dramatiese tonnel afklim, maar jou moegheid is 'n herinnering dat God nie moeg raak nie. Wat 'n ongelooflike krisis sou dit wees as probleme soos loadshedding en korrupsie en bankkrotskap ook die lig van Christus sou kon uitdoof...
Dankie tog vir krag van bo! Sterkte vir hierdie maand en die tawwe weke wat voorlê. Moenie vergeet om ook hierdie besige tyd te geniet en te koester nie.
Comments