In Jesaja 6 lees ons dat Jesaja geroep word op 'n profeet te wees. Dit was op 'n tyd waar hy uiteindelik gereed was om in volkome gehoorsaamheid tot God geleef het en daarom ook direk vanaf God 'n boodskap kon ontvang (of hoor of verstaan!)
Jesaja getuig dat hy God in 'n visioen gesien het waar Hy op die troon gesit het en Sy mantel die hele tempel gevul het. Engele het rondom Hom gesing "Heilig, heilig, heilig is die Heer" (Jesaja 6:3). God se teenwoordigheid was so kragtig dat die deurkosyne begin skud het en rook die tempel gevul het. Dit was so kragtig dat Jesaja onmiddellik sy eie tekortkominge begin raaksien het en toe hy self-ondersoek doen, besef het dat hy glad nie waardig voel in God se teenwoordigheid nie. Hy het vir die eerste keer besef dat sy lewe eintlik gevul is met meer dinge wat hy NIE wil doen en sê nie, as met die regte dinge soos wat God sou wou hê.
'n Ware belewenis met God is baie keer vreesaanjaend en veroordelend, maar op 'n eerlike en opregte manier sien jy jouself vir die eerste keer werklik raak. Ons begin die waarheid oor onsself erken en dis nie altyd 'n mooi gesig nie. Maar om ander mense rondom jou te kan help, en op die ou einde die werk van God getrou te kan doen, moet jy op 'n eerlike plek met jouself ook kan wees. Die enigste manier om te verander en verandering by ander te bewerkstellig, is om eerlik te wees. Niemand is perfek nie, maar 'n ware ontmoeting met God is die eerste stap tot jou roeping.
Daar is iemand daar buite wat tot redding gaan kom deur wat jy sê of doen. Daar is iemand daar buite wat net wag op jou getuienis. Ten spyte van vuil lippetaal, het Jesaja een van die grootste profete geword.
WAT IS DIT WAT JOU JUIS NOU ONWAARDIG IN GOD SE Oë LAAT VOEL?
HET JY AL OOIT 'n GODDELIKE OOMBLIK SOOS JESAJA GEHAD? WAT WAS DIE OMSTANDIGHEDE VAN DIE ONTMOETING MET GOD?
WIE DINK JY IS DAAR TANS OP JOU PAD VIR WIE JY VAN WAARDE KAN WEES?
Jy is oppad na 'n geseende roeping - selfs op daardie ongemaklike plek waar jy jouself nou bevind...
Comments