top of page
elsabehorn4

30 - SONDAG, 24 SEPTEMBER 2023



In Johannes 13 lees ons die bekende en baie mooi verhaal van Jesus wat Sy dissipels se voete was. Dis die tipe mens wat ons na streef om te wees, net soos Jesus van ons verwag. Al kom dit nie aldag natuurlik vir ons almal nie, weet ons dat "acts of service" een van die liefdestale is. En ons doen dit. Al is daardie voete vol blase en krake en tekens van 'n harde, vuil lewe.


Ons help 'n vriendin in nood om kinders rond te ry. Ons koop inkopies vir 'n invalide of koop 'n bos blomme om iemand op te beur. Ons rol moue op en spring in. As Jesus vuil voete moes was, kan ons wragtie ook 'n bietjie moeite doen om mekaar te dien. Ons weet ons moet mekaar liefhe en al vra dit ons soms om uit ons gemaksone te beweeg, weet ons dit laat God glimlag en dit bou 'n koninkryk op aarde.


Maar hoekom huiwer ons dat 'n dienende Martha ons voete was? Hoekom voel ons vernederd en selfbewus en "ek is ok, jy hoef regtig nie" wanneer iemand ons voete wil was? Ons sal sommer self die kinders ry en die groceries gaan koop terwyl ons eintlik 'n doktersafspraak daardie selfde tyd het. Alles is reg, ek het dit. Ek het nie hulp nodig nie.


Genade en liefde, besef ek, is soms moeiliker om te ontvang as om te gee.

Dalk is dit wat Jesus vir ons met 'n bak water en 'n lap wou kom wys - nie dat ons liefde en genade oral moet gaan uitdeel nie, maar dat ons liefde en genade van Hom af sal ontvang, met 'n oop en blye hart. Dat Hy vir jou so lief is en jou so koester dat Hy selfs jou gebarste hake sal kom was. Niks kan Hom keer nie.


Dis tyd, liewe vriendin, dat jy met liefde en genade na jouself kyk, soos wat God jou sien, en toelaat dat iemand jou kom bedien. Nederigheid beteken nie net om ander bo jouself te plaas nie... nederigheid beteken veral om te vra vir hulp... om te besef die Here gaan nie noodwendig vra wie almal se voete jy gewas het in jou leeftyd nie (die lys kan redelik lank raak as jou kinders ook in die modder gespeel het toe hulle klein was!), maar Hy gaan weet of jy die deur oopgemaak het toe Hy jou voete wou was.


Filippense 2:4-8

"Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:

Hy wat in die gestalte van God was,

het sy bestaan op Godgelyke wyse

nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,

maar Hy het Homself verneder

deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem

en aan mense gelyk te word.

En toe Hy as mens verskyn het,

het Hy Homself verder verneder.

Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis."


Dankie Jesus dat Hy bereid was om genade van Sy Vader te ontvang. Dat Hy bereid was om as 'n hulpelose mens onder ons te kom woon, sodat ons 'n stukkie van Sy menswees ook in ons eie lewe kan beleef.


Ja, jou gladde hakke gaan ook 'n kraak kry, jou elmboe vol droe velle of jou tone vol straatvullis... gaan jy toelaat dat dit met liefde en sorg gewas en vertroetel word?

AMEN.


37 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page