Die lewe is 'n boot. Party van ons bote is smal en dun en het 'n lae kapasiteit. Sommige se bote is gemaak vir spoed en ander is groot en lywig (met geen verwysing na ons rokgrootte nie...). Die Here het ons elkeen anders gemaak met ander vaardighede, ander funksies en verskillende tipping points.
Dis seker hoekom daar party mense is wat vier hamburgers kan eet en steeds ferm en fiets is, terwyl ander van ons na een hamburger soos 'n kussing lyk eerder as 'n uurglas. En hoekom party 'n marathon kan hardloop sonder 'n sweetdruppel en ander hul lewe lank sukkel om 3km gemaklik kaf te draf. Elkeen van ons bereik 'n punt waar ons oorlaai, waar ons breekpunt bereik, waar ons sukkel om op die waters te vaar. Jy moet kan afpak wanneer dit nodig is... kan stop as dit te veel raak... en by wie doen jy dit?
In die boek van Job is daar baie lesse vir ons as vroue te leer. Job se vrou moes hom deur al sy krisisse bystaan en sy teleurstellings en uitdagings was net sowel haar pyn en lyding. Wat sou jy as Job se vrou gedoen het, hoe sou jy hom adviseer? Hoe sou jy optree? Ons kan die lewe en probleme soms meer ondraagliklik vir ons wederhelfdes maak... hoe wil God hê moet jy jou huisgesin, jou bootjie, op die water hou?
Tesame met sy vrou het Job 'n aantal vriende gehad. Vriende wat eerlik en reguit was. Ons het sulke vriende nodig, maar wie hoort in jou bootjie en wie nie? Het jy ook ligte, lag, luister vriendinne wat vir jou 'n plek is waar jy kan afpak, geniet, vreugde vind? Of het ons net swaar en negatiewe vriende wat ons bootjie kan laat sink? Lewe lig, pak af, oorweeg en kies mooi wie jy saam met jou in jou boot toelaat.
BID HIERDIE WEEK:
* Spesifiek vir jou man as jy getroud is... of vir die regte man as jy nie getroud is nie
* Wat moet jy afpak, los om te sorg dat jou huisgesin versorg en standvastig is?
* Watter vriende maak jou lewe ligter... watter moet jy miskien laat vaar?
AMEN.
Comments