Hierdie week het ons Ester gelees. Dis so 'n ironiese, amper humoristiese en tog ontstellende storie wat vir baie van ons baie bekend is. Ek wil egter steeds by Spreuke 31 stilstaan aangesien ons dit in die boek van Ester ook sien uitspeel.
Reg aan die begin, sien ons die vrolikheid van 'n feesmaal voer die koning mee en hy werk deur sy sewe paleisbeamptes om koningin Vasti te laat haal om met haar skoonheid te kan spog. Sy weier egter om soos ’n skouperd ten toon gestel te word voor ’n klomp mans onder die invloed van baie wyn. Haar beginselvastheid skitter helder deur teenoor die onvastheid van die koning se optrede.
Ek kyk vanoggend af na my wintersvoete en my hakskene wat haak-haak aan my sokkies. My skoonpa het 'n ding gehad oor skurwe hakke - hy kon dit nie verdra nie. My pa voel so oor elmboë. Ek kort 'n ernstige somers-make-over. Maar ook my klere is outyds, uit seisoen uit en het of motgate of los garings. Ons almal wil mooi lyk en beter voel, maar broodnodige tyd vir jouself is om weer te besef wie Christus in en deur jou is en wil wees.
Daar is elke dag nuwe uitdagings, nuwe modes, nuwe diëte, nuwe prosesse en giere - dis geen wonder ons sukkel om kop bo water te hou en goeie, gesonde keuses uit te voer nie. Maar watter wonderlike bevryding om te weet God het jou reeds kom waardeer, en hoe meer jy daardie identiteit begin uitleef, hoe mooier skyn jou lig. Vryheid is sekerlik een van die geseëndste ervarings ooit. Om werklik vry, skoon, lig en opreg te leef, sonder angs en vrees, dinge wat ons druk en vashou. Jesus wens dit vir jou.
Spreuke 31 praat van so 'n mooi karakter - die karakter wat God deur ons bou as ons in Hom gewortel is:
* Kosbaar
* Vertroueling
* Vreugde
* Gryp goeie geleenthede
* Droom en hoopvol
* Gerus
* Bekwaam
* Geestelik sterk
* Waardig
* Nie bang nie
* Wysheid
* Beheersd
Skryf hierdie woorde op jou spieël, teen jou yskas, op die klerekas, teen jou rekenaar en glo dit! Dit is die nuwe jas wat Christus wil hê jy moet elke dag aantrek.
Wat gaan jy hierdie week doen om weer jou identiteit terug te kry? Iets net vir jouself? Me-time. Self-care. Of in Jesaja 44 se woorde: "Ek behoort aan die Here-tyd."
Wees goed vir jouself, jy is nodig vir 'n tyd soos hierdie - nie wat jy doen en hoe goed jy dit doen nie, maar wie jy is.
Kommentare