Spreuke 31 - die perfekte vrou. Dankie tog dat hierdie formidabele dame nooit werklik bestaan het nie, wel net in koning Lemuel se ma se geestesoog, alhoewel sy in alle opsigte die rolmodel is van wat ons almal eintlik wil wees.
Ek hou van kosmaak en organiseer, maar stik is nie my ding nie en ek raak nou nog senuagtig as ek terugdink aan tuisgemaakte rokkies en bloese vir lentedag. Hoe kan ons dit alles wees wat in Spreuke 31 voorgeskryf word -
die gehoorsame dogter teenoor God,
die liefdevolle vrou vir haar man,
die mamma wat sorg,
die vriendin wat ondersteun?
Om nie eens van cheerleader, chauffeur, aankoper, kampvegter en model te praat nie.
Ek sukkel om dit als bymekaar te hou. My kar is die vuilste in die parkeerarea. My handsak is vol vreemde voorwerpe en dis allesbehalwe geld.
En party van ons geniet dit om alleen te bly en slaptjips te eet.
Dit kan nie dit wees nie. Daar moet iets dieper agter hierdie verse lê, God se hart vir my en jou en wat Hy sekerlik deur elkeen van ons wil doen. Dis mooi goed, goeie goed. Wat ons self nooit gaan regkry nie.
"Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dan verdien 'n vrou om geprys te word. Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte."
As sy die Here dien.
Hoe is jy tot God se beskikking? Het jy Sy Seun so lief dat jy Hom nie wil teleurstel nie? Is Hy ons rolmodel, Vader, Koning? Die vrug in Spreuke 31 is nie iets wat ons kan najaag nie, maar ons kan die bron van al daardie vrug najaag... en vrug dra... Jy mag maar minder mooi en minder vlytig in die kombuis wees, God is besig met 'n stadige en deurdagte proses van karakterbou wat mooier, meer vernuftig en meer waardevol is as kettingsteek en kolwyntjies.
Ons doen dit nie om mense se erkenning te kry nie. Ons doen dit nie om ontslae te raak van skuldgevoelens en om te kompeteer nie. Ons doen dit vir God. Of meer, God doen dit deur ons vir Sy glorie.
Kom reis saam met ons deur Spreuke 31 in die volgende paar weke om prakties te kyk hoe ons verskillende fasette van ons vrouwees weer kan afstof en so ook nader aan God beweeg.
Amen.
Comentários