Ek is nie baie lief vir geskiedenis nie. Veral nie op skool nie - het altyd gewonder hoekom ons in die verlede moet leef, terwyl daar 'n hede en 'n toekoms is. Ek is meer van 'n praktiese hands-on tipe mens.
Kronieke is 'n geskiedkundige boek wat vir ons die orde van gebeure in die Ou Testament weer in perspektief stel. Maar dit pas ook mooi in by ons huidige orde. Die geskiedenis het maar 'n manier om te herhaal.
Het jy al ooit gevoel asof jou lewe bestaan uit Eet. Drink. Slaap. Repeat.
Of die realiteit is seker meer soos Wasgoed. Kosmaak. Inkopies. Repeat.
Of 'n aanhoudende kla, vra en baklei orde.
Roetine kan ons partykeer lelik onderkry, veral as daar maar min hoogtepunte tussenin is.
Waarheen is ons oppad? Wat is die sin hiervan?
2 Kronieke 7:14 - "en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel."
God se vasgestelde orde vir ons lewe het 'n baie bepaalde doel. Hy roep ons uit ons nood uit, ons toon berou, bid tot Hom, draai weg van ons verkeerde dade en dan beantwoord God ons hulproep met herstel en vergifnis. Het ons nie hierdie orde dikwels verkeerdom in ons geloofslewe nie? Hoeveel keer bid ons tot God vir hulp en herstel, maar ons toon geen berou nie. Ons is nie bereid om weg te draai van dit waarmee ons besig is om Hom te gehoorsaam nie. Ons gaan maar net so aan en dan raak ons kwaad as dinge nie verander of uitwerk nie.
God roep.
Ek antwoord in berou en gebed.
God luister.
Repeat.
God se orde werk soos klokwerk. Dis 'n fyn sisteem wat ons dikwels wil verdraai en verbuig sodat dit ons pas, maar dis nie hoe God werk nie.
Dalk is repeat nie so 'n slegte setting nie. 'n Vriendin verwys hierdie week na 'n liedjie "Ek Het" wat nogal baie klink soos die lewe partykeer vir ons voel. Ons voel nie of ons wen nie, ons vorder nie, ons karring maar net so aan en maak dieselfde foute, doen dieselfde goed dag in en dag uit... maar dit herinner ons aan God se orde in ons lewe.
Want as ons 'n stem hoor wat roep, mag ons stop, bid, gehoorsaam wees, omdraai, weer begin. Dis die lewe en die lewe waarvan God die outeur is. 'n Fyn sisteem wat Hy in die holte van Sy hand hou.
Ek het gestaan
Ek het geval
Ek het wat wou
Ek het gewens
Ek het gelag
Ek het gevra
Ek het gewonder
Wat jou pla
Ek het
Ek het gestoei
Ek het gewen
Ek het versnel
Ek het gerem
Ek het geterg
Ek het gehuil
Ek het verskil
Ek het verander
Ek het
Ek het gemik
Ek het geland
Ek het gesorg
Ek het volhard
Ek het gevat
Ek het gelos
Ek het geslaag
Ek het genoeg
En ek het als gesien
En ek het als gehoor
Ek het my hart uit gespeel
En ek het soms verloor
Ek het gedink
Ek het geleer
Ek het gelief
Ek het verlang na jou
En eendag as dit stil word, en ek niks meer nog wil hê
Sal ek sonder twyfel in my hart, vir jou kan sê
Ek het
Ek het
Ek het
Mag jou lewe 'n gebed wees - 'n aanneemlike voorbeeld van gehoorsaamheid, afhanklikheid en berou tot God. Asem in. Asem uit. Dis die lewe.
Amen.
Comments