Stilbly is nie maklik nie. Veral nie as jy baie het om te sê nie. My pa het my altyd daarvan beskuldig dat ek die laaste sê wil hê. "Maar as ek nie die laaste sê gaan sê nie, gaan iemand anders!"
Hierdie week het ek opnuut besef dat daar soooo baie is wat ons kan sê en wil sê, maar dat stilbly 'n byna magiese, heilige krag het wat berge kan versit. Dit werk regtig. Stilte bring daardie broodnodige afstand tussen over-the-top emosies en rasionele denke. Dit gee die ander party die geleentheid om af te pak, te ontlaai en ook bietjie van hul onnodige emosies ontslae te raak. Dit bring wysheid. Perspektief. Oplossings. Geleentheid. Stilte genees.
Dit kos baie byt-op-die-lip, hou-jouself-in wilskrag, maar dis asof jy die Here hardop kan hoor intree vir jou in daardie terugstaan oomblikke. Soms is dit nodig om op te staan en jou sê te sê, dit is so. Maar daar is baie situasies waar jy die beter mens wegstap as jy stilgebly het. Selfs nie eens 'n vinnige "ek is jammer", kan so hard om verskoning vra soos die stilte van opregte spyt nie. Dink daaroor.
As jy die luuksheid het om langs 'n kabbelende rivier te sit hierdie week, gaan doen dit! Bly stil en luister na die geluide van die natuur.
Of sit op jou sitkamerbank en lees Psalm 46 weer 'n keer. Dit is vol geluide en stemme - maar dis nie jou ne nie - jy staan stil en kyk hoe God dit weer eens regkry om die laaste sê te hê - en dit voel sooo goed.
"God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag;
as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.
3 Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud,
en berge wankel in die hart van die see nie.
4Sy waters kan maar woed, kan maar skuim,
berge kan maar bewe in sy dreuning.
•Sela
5Daar is 'n rivier – sy watervore verskaf vreugde
aan die stad van God, die heiligste woonplek
van die Allerhoogste. 6God is in haar midde,
sy sal nie wankel nie. God sal haar help
wanneer die oggend aanbreek.
7 Nasies was onstuimig, koninkryke het gewankel,
Hy het sy stem laat hoor; die aarde sidder.
8Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.
Sela
9Kom kyk na die dade van die Here, Hy wat skrikwekkende dinge
op aarde doen, 10wat oorloë laat ophou
tot aan die einde van die aarde.
Boë breek Hy stukkend en Hy verpletter spiese;
waens verbrand Hy in die vuur.
11“Bedaar en erken dat Ek God is,
Ek is verhewe bo die nasies,
Ek is verhewe bo die aarde.”
12Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is die God
van Jakob vir ons."
DINK BIETJIE:
* Waar het jy hierdie week gepraat wanneer jy eerder moes stilbly? Soos met jou man argumenteer toe vrede belangriker was? Of vir jou dogter ingetree toe sy dalk eerder self uit haar foute moes leer? Vir iemand wou uithelp deur namens hulle te praat, maar dalk eerder die situasie vir dit self moes laat praat het?
* In watter areas is dit vir jou baie moeilik om stil te bly? Hoe kan jy die Here hier vertrou?
Kommentarer