top of page
elsabehorn4

21 - SONDAG, 16 JULIE 2023


'n Vrou wat honger en moeg is, is nie enige een se speelmaat nie. Dit bring die grommende leeu uit die makste lammetjie - of sal ek sê die koei word 'n seekoei (moenie dat die ooreenkoms in die naam jou mislei nie). So is dit ook met versoekings en toetse in ons lewe. Hulle kom in dieselfde gedaante, selfs in Grieks word dieselfde woord vir albei gebruik (peirazo), maar daar is 'n merkwaardige verskil in die bedoeling en motivering.


In Lukas 4 word Jesus deur die duiwel versoek en uitgelok terwyl Hy op sy moegste en hongerste is. Die Satan se versoekings is bedoel om te breek, en dit lei tot vernietiging, pyn en lyding. God se bedoeling is nooit om seer te maak nie, maar om te brei, te verander en vernuwe. Dis ook hoekom God sal toelaat dat ons soms versoek word - want as dit Sy mooi plan vir jou kan laat gebeur, sal Hy dit ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet.


Ek glo nie God sal sommer toelaat dat ons so van aangesig tot aangesig deur die Satan aangeval word soos Jesus was nie, maar dis vir ons 'n standvastige voorbeeld van hoe om onsself te beskerm teen versoekings en hoe om in geloof te reageer. Die laaste versoeking wat Satan aan Jesus gerig het was om Sy identiteit en verhouding met God uit te daag... en dis die een ding wat ons kan help in ons eie alledaagse versoekings.

Ons gaan nog baie honger wees. Nog baie moeg. Ons gaan platgedruk en teneergedruk voel. Verlore. En dan gaan ons nog baie versoek word. Maar die toets is nie die versoeking nie, die toets is of jy aan God gaan vashou en op Hom vertrou.

En as jy op Hom vertrou, gaan Sy glorie net sterker deur jou werk. Jakobus 1:13: "Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie."


'n Versoeking is 'n wakker-skud-oomblik om net weer stywer aan God vas te hou.

Knyp jou oë toe en hou moed, beur vorentoe. Dit gaan nie maklik wees nie, maar Jesus het die toets van tyd deurstaan en Hy het dit vir jou gedoen. Niks sal ooit te moeilik wees om te oorkom as jy jou oë op Hom rig nie.


Here, toets of versoeking, help my om aan U vas te hou. U is die oorwinnaar en U doen dit vir my. Amen!



31 views0 comments

Recent Posts

See All

Bình luận


bottom of page