top of page
elsabehorn4

20 - SONDAG, 9 JULIE 2023


Slegte goed gebeur dikwels in drieë... of so sê hulle. Dit voel baie maal asof 'n mens deur dik gras strompel en nes jy deur 'n modderplas geworstel het, is daar nog 'n dikker moeras om deur te werk. 'n Bondel van moeilike goed wat so een na die ander rol. En dan die vryheid van 'n plat vlakte daarna... En jy besef, as dit nie vir daai erge gestoei was nie, so jy nie daardie rustigheid so intens kon waardeer nie. Maar hoe dikwels gee ons op in die middel van die dik gras.


In 2 Konings 8 lees ons die storie van 'n vrou wat letterlik moes wegstap van alles wat sy besit het. Sy was 'n getroue dienaar van die profeet Elisa. In Hoofstuk 4 het sy en haar man 'n kamer aangebou sodat die profeet by hulle kon oornag as hy in die dorp was. (Ek het geweet die airbnb wat ons sopas in die agterplaas begin bedryf het - met baie benoudheid en onsekerheid - is Bybels!)


Om hulle te bedank vir hul gasvryheid, het Elisa 'n seën oor haar lewe gespreek en hulle was toe ook, teen verwagting, geseën met 'n seuntjie. Hierdie seun het later gesterf. Maar steeds het hierdie vrou se geloof nie gewankel. Sy het by die profeet gepleit vir haar seun se lewe en hy is wonderbaarlik weer tot lewe herstel.


Hierdie vrou wat eens baie welgesteld was, moes haar seun sien ly tot die dood toe, sy het haar man verloor, en in hoofstuk 8 was sy oppad om haar huis ook te verloor as gevolg van die hongersnood wat oppad was. Al was haar geloof sterk, was dit nog steeds baie moeilik om al hierdie teleurstellings in die gesig te staar. Sy het vir seker swaargekry, maar sy is nooit ondergekry nie. Sy het teruggebons.


Sy het op die einde die koning gaan vra om terug te keer en sy het alles, plus meer as wat sy verwag het, terug ontvang.


Die dik gras voel soms onoorkombaar, maar daar is iets beter aan die ander kant. Net soos wat daar ongelooflike vryheid vir jou wag na erge vrees... genade na jare se skuld en skaamte... liefde na kille verwerping. Daar is iets beters om die draai - dit voel ver weg, maar dis nie so ver nie. Dis binne bereik en jou naam staan daarop geskryf. Dieper, wyer en beter as wat jy ooit voor kon hoop.





18 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page