top of page
elsabehorn4

19 - SONDAG, 2 JULIE 2023


Ek is 'n baie besluitelose persoon. Ek praat nou nie net van watter broek of baadjie ek moet aantrek nie (wel, dit ook!), of wat om in die restaurant te bestel vir ete nie, maar ek wik en weeg, sug en soek baie lank voordat ek 'n finale keuse maak. Goed of sleg, dis hoe dit is - 'n daaglikse stryd en moeite om te verander.


Of jy nou besluiteloos, stadig of impulsief is - ek dink niemand van ons wil dom besluite maak nie. Ons hoop tog sekerlik om in die posisie of situasie wat jy jouself bevind, die beste moontlike keuse te kan uitoefen. Ons wil almal wys wees, soos Salomo.

1 Konings 4:29-30: " God het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is. 30Salomo het meer wysheid gehad as al die ander mense, van die ooste af tot in Egipte."

Salomo het uitgestaan in 'n lang lys van minder wyse konings wat baie onwyse en roekelose besluite geneem het. Hierdie besluite het tot hul persoonlike val gelei, maar ook die ondergang van 'n hele nasie. Net soos die Psalmdigter ons herinner, begin wysheid met die dien van die Here, met die erkenning dat jy dalk nie so slim is wat jy gedink het jy is nie (vir ware wysheid hoef jy nie noodwendig slim te wees nie!).


Daar is 'n legio van wenke wat jou kan help om wyser besluite te maak en beheer oor jou keuses uit te oefen. Hier is 'n paar wat jy dalk hierdie week aan kan kou:

  1. VRA. Moenie te trots wees om hulp te vra nie. Ook nie vir die Here nie.

  2. VOLG. Kry 'n mentor of verantwoordelike voorbeeld van iemand wat 'n pad met die Here stap en volg haar/sy voorbeeld, leer by haar/ hom.

  3. GOEIE GESELSKAP. Omring jou met godvresende, nederige, kalm persone.

  4. JAAG DIT NA, SOEK DIT. Moenie wegskram van inisiatief neem nie. Probeer 'n besluit maak. Oefen dit.

  5. KLEIN OOMBLIKKE. Koester die klein dingetjies wat die pad makliker maak. Ek noem dit rigtingwysers, ligpunte wat vir jou die pad na wysheid wys - klein deurbrake wat jou selfvertroue 'n hupstoot gee.

  6. WEES NEDERIG. Moenie dink jy is slim nie. Wag maar dat iemand dit vir jou sê.

  7. DIT GAAN VERBY. As jy 'n slegte keuse of 'n fout maak, moenie te lank daarby stilstaan nie. Slegte goed gaan verby, goeie goed bly.

Een van die beter besluite wat jy hierdie week gemaak het, was om jou Bybel te lees. In 'n wêreld wat aandring op ons tyd en aandag op soveel terreine tegelyk, het jy 'n baie belangrike en duidelike besluit geneem om jou tyd aan Sy Woord te bestee.


Wat 'n wyse vrou!


Mooi week!

35 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page