In ons samelewing word dit dikwels as 'n swakheid beskou as jy huil. Selfs vroue word aangepraat en skeef aangekyk as hulle lyk asof hul 'n traantjie wil stort. In een van my bybelstudie-groepe gebeur dit dikwels dat niemand die dag van die eetgoed eet nie, maar daar is altyd ten minste een wat teen die einde van die sessie huil... dis maar net 'n baie akkurate prentjie van hoe vroue deur die lewe gaan... Een van die mammas se dogter was op 'n slag tydens die bybelstudie by die huis en merk toe ewe kordaat na die tyd op hoe vreemd dit is dat "julle net vir die koek kyk en dan huil almal."
Dalk huil ons te maklik en is hopeloos te liggeraak, maar ek dink ons huil dalk nie genoeg nie. Word jou hart nog diep geraak deur die stukkende toestand van die wêreld? Deur verhoudings wat skeefloop?Kinders wat mishandel word, honger, nood, trauma, ontrouheid, oneerlikheid, bedrog en agteraf geskinder? Ja, soms is ons heeltemal te sensitief en ons velle te dun, maar net so het baie van ons begin verhard om aan te pas by 'n harde wêreld. As vroue het ons harte hard geword...
Ek lees in 2 Samuel 1:24 :"Daughters of Israel, weep for Saul, who clothed you in scarlet and finery, who adorned your garments with ornaments of gold,” en ek kry sommer 'n knop in my keel vir die trane wat daardie tyd se vroue al gestort het, en hoe byna vreemd dit vandag klink.
God vang al vir jare al daardie trane op om die wêreld mee te genees. Jou trane maak saak. Jou seer hart bring herstel en genade waar daar voorheen haat en afguns was. God weet.
En dan, kort voor lank, verander daardie huil in jubel. Net 'n paar hoofstukke aan lees ons van Dawid wat in dans losbreek voor die ark. (2 Samuel 6:14-22). Vir party is hy 'n bespotting, maar in sy binneste kan hy nie die opgewondenheid voor God keer nie. Sy hart loop oor. Saul se arme dogter Mikal haat sy feesvieringe en is met bitterheid gevul.
"When David returned home to bless his household, Michal daughter of Saul came out to meet him and said, “How the king of Israel has distinguished himself today, going around half-naked in full view of the slave girls of his servants as any vulgar fellow would!” David said to Michal, “It was before the Lord, who chose me rather than your father or anyone from his house when he appointed me ruler over the Lord’s people Israel—I will celebrate before the Lord. I will become even more undignified than this, and I will be humiliated in my own eyes. But by these slave girls you spoke of, I will be held in honor.”
Wat is die toestand van jou hart? Dalk huil jy vanaand oor die onreg van die wêreld, dinge wat nie loop soos dit moet nie. Dalk is jy vanaand uit jou nate uit opgewonde, verlig en vrolik soos Dawid. Maar mag jy net nooit stilstaan by bitter en verag nie. Dis nie 'n plek waar die Here ons wil sien of gebruik nie. Kom uit daardie dooie, droë plek en bly in voeling met die Here.
Ons is gemaak om te huil en om te dans, ons is gemaak om in te tree en dankbaar te wees, ons is gemaak om 'n gevoeligheid vir Christus en vir mense rondom ons te hê. Bitter hartseer of bitter bly, maar nooit ooit bitter nie.
BID:
* Here, ek bid vir die seer en die nood in hierdie wêreld, in my eie gemeenskap en dalk selfs in my eie huis
* Here, genees my van bitterheid, jaloesie en veragting
* Here, dankie vir U liefde, U genade, U teenwoordigheid
Amen.
Comments