Die afgelope twee weke was 'n mallemeule van emosies en gebeure wat my totaal oorweldig en verslae gelaat het. Daar was baie slegte nuus en hartseer gebeure; terselftertyd ongelooflike ondersteuning en liefdevolle verbintenisse, maar in alles was daar God.
Ja, God is in alles - die goed en die swaar. Dis ook geen wonder dat die kerk betrokke is by amper elke fasset van ons lewensritme nie - van babas inseen en doop tot huwelike en roudienste as ons sterf.
Ons kan eenvoudig geen area van ons lewe, goed of swaar, aanpak sonder God nie, en om Hom te erken, te raadpleeg en te eer nie.
So dikwels probeer ons uit eie krag ons probleme oplos of dink as ons dit met iemand anders bespreek het, is dit uitsorteer. Maar ons vergeet om dit met God te bespreek. Vir wie vertel jy hoe jou dag was? Met wie deel jy jou diepste hartsgeheime en teleurstellings? Saam met wie jubel jy oor goeie nuus? Dis goed om omring te wees met geliefdes wat ons las ligter maak, maar behoort God nie dalk ook te weet nie? Gaan Hy nie die beste oplossing vir jou kan gee nie?
Dink bietjie aan die storie van Hanna (1 Samuel 1) wat kinderloos was en gevoel het sy is hopeloos en met geen waarde. Sy was so bedruk dat sy nie kon eet nie. Elikana het haar probeer opbeur, maar tevergeefs. As sy met God daaroor sou gesels, kon Hy vir haar wys wat Hy reeds vir die toekoms vir haar beplan het. En dis presies wat Hanna gedoen het - sy het na die tempel toe gegaan en so intens gebid dat die mense gedink het sy is dronk. Eli het haar gevra of sy gedrink het, maar sy was besig om intensioneel haar laste met God te deel. En dis toe Eli haar wegstuur met die vrede van God - vrede waarna sy so intensioneel opsoek was.
Mag God nie ons laaste opsie wees nie, maar ons heel eerste. Hy genees, Hy herstel, Hy beplan, Hy weet, Hy troos, Hy omarm, Hy bemoedig, Hy luister, Hy spoor aan - beter as enige van ons in tye van verdrukking en vreugde.
Amen.
Kommentare