top of page
elsabehorn4

14 - SONDAG, 21 MEI 2023


Ek moes in my eerste jaar op universiteit die boek Things Fall Apart van Chinua Achebe lees en bestudeer. Dit was gewigtige leesstof vir 'n eerstejaarstudent en ek kan nie veel van die storie self onthou nie, alhoewel die gevoel van dinge wat net nie wil uitwerk nie, uitmekaarval, ineenstort, vir ons almal al een of ander tyd 'n werklikheid was. As jy meer as een krisis gelyktydig hierdie week moes hanteer, meer as een deadline gehad het of selfs net drie kinders wat op dieselfde tyd of verskillende plekke moet wees, weet jy baie goed hoe dit voel as dinge uitmekaar val.

Turning and turning in the widening gyre The falcon cannot hear the falconer Things fall apart; the centre cannot hold; Mere anarchy is loosed upon the world - William Yates

Die boek van Rigters wys vir ons hoe maklik ons lewe uitmekaar kan spin. Die volk het vir 'n oomblik fokus verloor, prioriteite verwar en sodra hul oorgegee het aan sonde, het dit sleg gegaan met hulle. So sleg dat hul enigste hoop op hul knieë was voor God. Hulle het gebid en Hy het hul verlos uit Sy oneindige genade en liefde deur vir hul 'n rigter te gee om hulle te help koers hou. Vir 'n tyd was die volk gehoorsaam en het hulle die vrugte daarvan gepluk, maar kort voor lank was hulle weer van koers af en vasgevang in hul eie behoeftes. Die siklus herhaal hom elke keer. God gee elke keer 'n rigter.


Dit is baie gerusstellend dat God nie ophou om genadig te wees teenoor die volk nie, maar merkwaardig hoe die volk met elke rigter net 'n bietjie meer losbandig raak... en die rigters al hoe swakker.


Dinge val nie maar net sommer een dag uitmekaar nie. Dis 'n proses. Een skynbaar onskuldige misstap lei tot 'n volgende en 'n volgende. Jy verskoon dalk iets wat nie so erg lyk nie, maar hoe gemakliker jy in daardie patroon raak, hoe moeiliker kom jy daar uit en bevind jy jou een dag in 'n baie diep gat.


Ons beland nie toevallig op 'n plek van chaos nie. Net so gebeur daar nie toevallig goeie goed in ons lewe nie. Dis deel van God se fyn uitgewerkte plan. Die resultaat van aktiewe keuses, harde werk, gehoorsaamheid.

Die enigste keer wat die woord toeval in die Bybel gebruik word, by die storie van die barmhartige Samaritaan, verwys dit na "saam met" en "hoë outoriteit", dit is "wat gebeur tesame met God se beplanning van omstandighede."


Ons gaan nie toevallig nader aan God se beeld en wil beweeg nie - dis 'n intensionele keuse om elke dag voluit vir Hom te leef in gehoorsaamheid en liefde. Ons gaan ook nie toevallig op 'n slegte plek in ons lewe beland nie - dis 'n intensionele keuse om vir sekere dinge nee te sê en van dit weg te beweeg.


Die beste nuus van als - God is by jou as jou lewe inmekaar tuimel en Hy is daar om die stukkies op te tel, elke liewe keer.

Want Hy is die beter rigter, die beste rigter, die rigter wat die volk nog altyd nodig gehad het. Beweeg nader aan Hom en laat Hom toe om jou lewe weer op koers te kry.


Amen.




30 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentários


bottom of page