Hierdie week noem iemand dat Deuteronomium glad nie 'n goed-voel boek is nie - dis dan net nog reëls en nog wette, wysigings op bestaande reëls en herhalings van dieselfde goed oor en oor. As jou week soos meeste ander s'n gelyk het, is dit inderdaad nie goeie nuus nie, want ons probeer nog opmaak vir laas week se tekortkominge, dan is daar al weer nuwe goed.
Deuteronomium is nie 'n tweede stel reëls nie - dis wel 'n herbevestiging van die reëls wat Israel steeds nie regkry om te gehoorsaam nie. En hierdie keer maak God dit deur Moses duidelik dat Israel ook nie in staat is om die reëls na te kom nie. Hulle kort iemand, buite hulself, wat hulle kant van die verbond met God kan nakom. Iemand wat hulle kan help om gehoorsaam te wees, rein te wees, beter besluite te kan maak, heelhartig te kan lewe, hul volle potensiaal te kan bereik, lief te kan wees.
Dis slegs moontlik om die reëls en wette na te kom deur God, die werke van Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees. Geen wonder dat Deuteronomium een van die Ou Testamentiese boeke is wat die meeste aangehaal word in die Nuwe Testament nie! Dis wys direk na die antwoord - Jesus Christus!
Ek sou nie met nuwe oë na daardie onbeskofte mense in my wêreld kon kyk sonder God nie. Ek sou nie tyd afstaan om na 'n medemens se pyn en hartsere te luister sonder God nie. Ek sou nie by die honger vrou en haar baba stop as dit nie vir God was nie. Ek sou waarskynlik nie gaan jammer sê dat ek so lelik geskel het of daardie kollega valslik beskuldig het van iets wat hy nie gedoen het nie. As dit nie vir God was nie.
Ek het vir God nodig in my lewe. Jy het vir God nodig. Ons kan nie die lewe sonder Hom aanpak nie. Ons kan nie oorleef en vrede maak en rustig raak oor onbenullighede en oorbegin en nuut dink en weer probeer sonder God in ons lewe nie.
Dit gaan beter met die wat Sy gebooie en voorskrifte gehoorsaam, wat lewe volgens Sy wil, wat Hom soek in alles. Sonder God gaan Israel dit nie maak nie.
Dalk moes jy net weer hierdie week hoor dat God die onmoontlike moontlik maak. Hy blaas lewe in die droë bene, Hy vernuwe die afgematte siel. En net Hy kan dit doen - weer en weer en weer.
Kom ons sing dan saam:
Deut 32:1 “Hoor, hemele, ek praat,
luister na my woorde, aarde!
2My onderrig kom na julle toe soos reënwater,
my woorde verkwik julle soos dou,
soos sagte reëns op die grassies,
soos reënbuie op die graan.
3Ek wil die Naam van die Here roem.
Prys ons God om sy grootheid!
4Hy is die Rots, sy werk is volmaak,
alles wat Hy doen, is regverdig.
Hy is die getroue God, sonder onreg,
Hy is regverdig en betroubaar."
AMEN.
Comments