top of page

11 - SONDAG, 30 APRIL


In die besige tyd waarin ons lewe is daar net te veel dinge waaraan 'n vrou of 'n ma moet dink. Daar is dae wat my kop soos 'n donderwolk voel en ek myself letterlik kan hoor lysies maak in my kop. En hoe ouer jy word, hoe belangriker is dit om lysies te maak. Want ons vergeet.


Deuteronomium is vol van Moses wat die volk herinner aan God se beloftes en wat Hy reeds vir hulle gedoen het. Dis gevul met post-it notas om nie te vergeet nie - onthou om te onthou, vergeet om te vergeet.


Twee voorbeelde van hierdie herhalings is in Deut 6:8 "Bind dit as 'n teken om jou hand en laat dit 'n versiering op jou voorkop wees. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte," en Deut 11:18-19 "Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul. Julle moet dit as herinneringsteken vasbind aan julle hande en dit moet 'n merk op julle voorkoppe wees. Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte."

Daar is selfs nog plekke waar Moses die volk herinner en die klipplate waarop die wette geskryf is, is 'n manier waarop hulle seker gemaak het hulle vergeet nie.


Watter sigbare, tasbare dinge het ons in ons huise om ons te herinner aan ons geloof? Hoeveel keer praat ons met ons naastes en ons kinders oor dit? Ek sal nooit vergeet hoe ek as sestienjarige post-it notes oral in die koskas geplak het om myself te herinner om nie tussenin te peusel nie... het ons sulke kentekens wat ons keer om af te dwaal en ons prioriteite op koers te hou?


Ons stel ons wekkers om op te staan, ons maak lysies vir kruideniersware, ons trek agendas op vir vergaderings, kyk op ons horlosies hoe ver ons gedraf het, sit die kinders se toetsroosters op die yskas... maar ons het geen geestelike lysies nie, geen post-its vir die heel belangrikste aspek van ons lewe nie.


So gou vergeet ons waar ons hulp vandaan kom. So gou vergeet ons om te vertrou. Te glo. Te bid. Vanaand sit ek my Bybel weer langs my bed. As ek gaan slaap en as ek opstaan. Ons mag nie vergeet waar ons vandaan kom en waarheen ons oppad is nie.


Amen.



Comentarios


Bly op hoogte

Dankie vir jou deelname!

081-701-8260

horn@afol.com.na 

©2023 by Terracotta. Proudly created with Wix.com

bottom of page