Ek kuier by 'n vriendin hierdie week en bewonder die kunstigheid waarmee sy haar huis versier. Ek is stilletjies jaloers en gaan koop sommer dadelik 'n paar strooikussings om die bank in die sitkamer bietjie op te kikker. 'n Paar nuwe plante al is dit winter. Daar is baie sulke oomblikke waar ons iets baie mooi of goed of groot sien. Ongelukkig dryf dit ons baie keer tot bittere vergelyking en mismoedigheid, afguns of minderwaardigheid. Maar in die boek van Markus besef ek die Here kom openbaar Homself in mooi en goeie en groot oomblikke sodat daardie bewondering ons kan inspireer, laat aanhou, uitstyg en groei tot die Godskinders wat Hy ons voor bestem het.
Markus kom skilder vir ons 'n pragtige skildery van Jesus. Wanneer ons hierdie skildery sien en waardeer, mag ons, soos die Romeinse offisier in Markus 15:39, erken: "Hierdie man was werklik die Seun van God." En hierdie oortuiging moet ons uitbring by 'n keuse om die lewe op Jesus se manier te lééf - voluit, met vertroue in ons Hemelse Vader.
Vanoggend is dit juis so mooi buite met die blou wolke en die wind wat reën oral rondwaai. Ek kyk op na die lug en ek sien hoe mooi en goed en groot God is. En al is dit Maandag, is ek kinderlik opgewonde oor die dag en die moontlikhede wat dit gaan bring. Ek bewonder God se handewerk en ek vertrou nie net op Hom nie, maar ek wil ook iets met my hande gaan doen en 'n inspirasie vir ander wees.
Ons wêreld het dus nie net mense nodig wat vinger wys en sê "Oe, kyk hoe mooi" nie, maar ons het mense nodig wat uit hierdie bewondering leef soos wat Jesus geleef het. Jesus het die storms stilgemaak, Hy het op water geloop, Hy het genesing gebring, Hy het ongekwalifiseerde mense 'n kans gegee, honger mense kos gegee, geluister as ander praat, tot die dood toe gehoorsaam gebly en nie opgegee nie, Hy het selfs Petrus se skoonma genees (en daarvoor bewonder ons Hom selfs meer!)
Jesus is die voorbeeld van volmaaktheid en dit moet ons nie tot ek-kan-dit-nie-doen-nie of ek-wens-ek-het-ook-gehad of hoekom-nie-ek-nie dryf nie, maar tot nuwe idees, nuutgebore passie en selfvertroue om agter Jesus aan te loop en meer soos Hy te wil wees.
Mag jy hierdie week met nuwe oë na die mense rondom jou kyk. Mag jy as jy 'n pragtige skildery sien, inspireer word om ook 'n mooi ding te gaan doen of maak. Mag ons mekaar aanspoor - nie tot jaloesie en venynigheid nie, maar tot gesonde kompetisie, ryker en geesvervulde lewens wat spreek van die Jesuslewe.
Markus is die oudste evangelie - dit beteken goeie nuus. Jesus bring nie net goeie nuus nie, Hy is self die goeie nuus. Ons getuig nie net van Jesus nie, ons is ook geroep om te leef soos Jesus.
Ek sien baie uit!
Commentaires