top of page
elsabehorn4

09 - SONDAG, 16 APRIL


Ons gaan daagliks deur 'n klomp emosies wat ons gedgtes en oordeel beïnvloed, maar een van die emosies waarteen ons die meeste moet waak is waarskynlik woede. Party van ons beweeg van 0-100 in terme van woede in net 'n paar sekondes. Ons raak kwaad vir die skool, die bank, die rye in die winkel, die verkeer, ons huweliksmaats, geliefdes, vreemdelinge, die hond en jou kollegas.


Dit is opvallend in die boek van Numeri hoe gereeld die Israeliete in opstand teen die Here gekom het. Hoeveel keer hulle kwaad was en hul humeur verloor het teen die God wat hulle verlos het, gered het, in 'n verbond met hul staan en hulle telkemale vergewe. Die groot probleem was nie sondaars wat onder God se woede en toorn gebuk gestaan het nie, maar eerder God wat in die hande van opstandige sondaars was. Is dit nie net verkeerdom nie?


Dalk is jy ook vandag kwaad. En dalk ook kwaad vir God. Miskien het jy 'n geliefde aan die dood afgestaan of is besig om deur 'n egskeiding te gaan. Dalk beantwoord God nie jou gebede nie of jy voel jy verdien nie die kritiek, teleurstelling en onregverdigheid wat tans na jou kant toe kom nie. Ons was almal al iewers 'n bietjie kwaad vir God, nes die Israeliete.


Maar word ons nie kwaad vir die verkeerde dinge nie? Is ons nie besig om vir onbenullighede kwaad te raak en van regtig belangrike sake, waarvoor God ons roep, weg te skram nie? Is woede nie net 'n verskoning om nie regtig op te staan in gehoorsaamheid aan God se wil nie? Hoeveel keer raak jy kwaad vir dinge buite jou beheer... en wat doen daardie woede dan aan jou? As ons dan kwaad raak, moet dit dan nie eerder vir die dinge wees wat God se hart seer maak nie, vir wat Hy voor opstaan of wat buite die koninkryk van die hemel val nie?


Die wêreld gaan 'n beter plek wees as ons die vyand teenstaan; ons woede nie gebruik om met mekaar en teen mekaar te veg nie. Is ons dan nie in dieselfde span, God se span, teen 'n sondige natuur en goddelose wêreld nie? Hoe dikwels is die gevegte in ons eie geledere en met ons naastes? Hoe dikwels is die gevegte een persone net soos ons, eerder as teen die oorsaak van alle pyn en lyding?


Hierdie week het ons ook in Spreuke 14:29-30 gelees: "'n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon. 'n Kalm gemoed hou die liggaam gesond; hartstog vreet 'n mens op."

Die enigste effek van woede is dikwels dat dit ons van binne-af opvreet, eerder as wat dit 'n goeie gevolg of positiewe uitkoms oplewer. Die aandag, tyd en energie wat jy aan jou woede spandeer het, kon jy eerder gebruik het om tot God te bid, op Sy wil te fokus en Hom te loof as oorwinnaar!


DINK SAAM:

* Ondersoek jouself - waarvoor raak jy regtig kwaad? Is dit die eie-ek of dinge waaraan jy niks kan doen nie of wat moontlik op ander maniere uitgesorteer kan word nie?


* Is dit verkeerd om kwaad te raak? Nee! Maar raak kwaad vir die regte redes. Staan op vir dinge wat die moeite werd is, wat saak maak, wat buite God se wil is.


* Bid dat God se vrede, kalmte en vergewensgesindheid oor jou sal spoel en jy alternatiewe metodes sal kry en jy die onderskeidingsvermoë sal hê om jou toe te spits op die dinge wat regig saakmaak.


Amen.



45 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page