Sondae-middae het my nog altyd met teneergedruktheid en lamheid getref. Ek was nie eens op skool in die koshuis nie, maar op universiteit het ek ietsie van daardie terugkom-van-iets gevoel beleef as jy 'n naweek weg was en moes terugkeer koshuis toe, of as almal anders die naweek weg was en nou teruggekeer het om te vertel hoe wonderlik hul naweek was. Na lekker Sondagmiddag-etes is jy Sondae-aande ekstra honger, maar weet eintlik jy kan nie nou weer lekker eet nie. Jy het niks om te doen as om te wag vir Maandae nie - en dis nie altyd 'n lekker vooruitsig nie. Sondae-middae is so tussen niks en nêrens.
Meeste van die lewe gebeur as't ware eintlik tussen die asemrowende - en die swaar oomblikke, tussen die huil en lag, tussen saai en oes, tussen geboorte en afsterwe.
Dis die "highs" en "lows" van die lewe wat ons dikwels onthou, maar die oomblikke tussenin is eintlik waar die verandering, die vernuwing en die ongelooflike gebeur.
Ons neem foto's van die eerste skooldag, die laaste skooldag, jou troudag. Jy teken die datums van geboortes aan, jou doop, die dag toe jy jou hart vir die Here gegee het, toe jy 'n geliefde aan die dood moes afstaan. Maar wat gebeur tussen die geboorte en die begrafnis, nadat jy die werk gekry het, voor en na jy die sertifikaat ontvang het, die slegte nuus gekry het, in die kar oppad skool toe of werk toe. Tussen kerk en die volgende Sondag. In die wagkamer van die dokter. Die tye wat nie noodwendig op jou agenda of kalender aangedui word nie, maar waar jy die meeste van jou tyd spandeer. Die alledaagse lewe.
Numeri beteken letterlik in Hebreeus "in die woestyn." In die Bybelse tyd vertel dit die storie van 'n gemeenskap wat sopas uit Egipte gered is en oppad is na die beloofde land van melk en heuning. Hulle wag vir die drie beloftes wat God aan Abraham in Genesis 12 gemaak het om te realiseer: 'n groot nasie, land om op te bly en dan seën om tot seën vir ander te wees. Hulle is wel op hierdie stadium 'n groot nasie om mee rekening te hou, maar hulle moet 40 jaar in die woestyn spandeer voordat hulle die land gaan kry. Hulle bevind hulle oppad, in 'n tussen-in-tyd, in die woestyn. Gaan dit realiseer? Kan hulle God se beloftes vertrou? Is dit die moeite werd om uit te hou en aan te gaan?
"In die woestyn" is die Stil Saterdag tussen die kruisiging en die opstanding. Wat doen jy in daardie tye? Hoe maak jy staat op God en bly vashou aan Sy beloftes in hierdie tyd? Wat jy in hierdie tye doen is dikwels wat die rigting van jou lewe bepaal - of jy meer en meer soos Jesus word... of bitter, sinies en hopeloos... waterskeidingsoomblikke.
Net soos die Israeliete, lewe ons vandag in die tyd tussen Jesus se opstanding en sy koms - en hoe ons tussen hierdie twee hoogtepunte leef, is belangrik vir waar ons gaan uitkom en hoe ons gereed gaan wees vir die ewigheid. Dis lekker by die werk en dis lekker om kinders te hê, maar hoe ons dit daagliks juggle is eintlik wat van ons regte grootmense maak!
Mag hierdie week se tussenin oomblikke nie verniet wees nie. Koop die tyd uit. Koester dit. Omhels dit. Moenie net wag vir iets beters of groters om te gebeur nie. Dit is dit, en dis kosbaar.
DINK VERDER:
* Lees weer Numeri 6:24-26. Spreek hierdie seën oor jou kinders as jy hulle by die skool aflaai, oor liewe vriende wat die langpad aandurf, voor 'n moeilike afspraak, 'n groot gebeurtenis, voor ete en luister bietjie intensioneel na die seën wat die dominee weekliks uitspreek aan die einde van die diens.
* Luister hierdie week na die lied "Highs en Lows" (https://www.youtube.com/watch?v=dPICBKZswgA)
* Luister ook na "Die Seën" (https://www.youtube.com/watch?v=0_TdJq2YGSg)
* Maak tyd om oppad werk toe, skool toe, huis toe te bid, 'n lied te luister, oor die Here se werk te praat, 'n preek of podcast of audio-boek te luister.
xxx
Comments