top of page
elsabehorn4

07 - SONDAG, 2 APRIL



Dit was hierdie week soggens koeler as gewoonlik - ek kan duidelik voel dat daar verandering in die lug is. Vir party is dit baie goeie nuus dat die winter oppad is, vir ander nie so 'n wonderlike vooruitsig nie. As ek uitkyk na my sukkelende wilgerboom, kan ek sien dat die boompie nog lewe, maar hy lyk maar treurig en definitief nie vooruitstrewend nie.


Lyk ons nie dalk ook so nie? Party van ons gaan maar net deur die rituele van die dag, die take op ons lysies, die programme wat ons vir onsself geprogrammeer het, maar daar is geen lewenslus nie. Geen voortuigang. Geen groei. Geen passie.


As ek Psalm 1 lees, besef ek opnuut dat God vir my vreugde en voorspoed toewens. Hy wil hê ons moet genot en geluk, seën en blydskap ervaar.


"Dit gaan goed met die mens..." (1983) "God hou sommer baie van jou..." (Boodskap) "Gelukkig is die mens..." (NLV) "Welgeluksalig..." (1953)

Ek dink sommer terselftertyd terug aan die verliefde gevoel toe ons net getroud was, of die opgewondenheid oor 'n klein pienkvoet, die warm gevoel toe jy by jou eerste werk begin het, die passie en die oorgawe waarmee mens voluit geleef en geniet het. Waarheen het dit verdwyn? Hoe het jou eerste liefde vir Christus dalk al weggekwyn en gaan jy dalk net deur die rituele van kerk, Bybel lees, bid en bybelstudie.


Mag jy nooit 'n punt bereik waar jy net oorleef nie, maar waar jy werklik lééf en dit in oorgawe!

Jy is nie maar net 'n boom nie, maar 'n boom gewortel in Christus en daarom moet jy vrug dra en groei. Die dinge wat ons dikwels dink vir ons voorspoed en seën gaan bring, is nie noodwendig waar ons ware geluk gaan ervaar nie. God kom sê vir ons dat daar sekere dinge is wat ons in lyn moet bring met Hom, ons moet onsself so posisioneer en instel sodat ons Sy seën kan ervaar. Levitikus herinner ons opnuut dat, vir ons om vrede en genot en ware voorspoed te ervaar, is daar sekere dinge wat ons in lyn moet kry, wat ons aandag van God af steel.


As die kelner vir jou 'n lou koppie koffie bring, gaan jy afgeskeep voel. Of nog erger 'n pastei wat gevries is in die middel (ons moes jare terug by 'n prysuitdeling my vriendins se bord pasteitjies vinnig laat verdwyn toe ons met die eerste byt agterkom dis heeltemal gevries in die middel!). Lou weet nie wat sy wil wees nie. Lou stuur af op verderf en verrotting.


Die boek van Psalms is die mees praktiese boek in die Bybel, omdat dit ons leer hoe om te bid, hoe om te leef, en hoe om God te loof. Daarby help Psalms ons op onvergelyklike wyse met die emosies wat ons oor die hele spektrum van die lewe ervaar. Ons kan nie net dink oor God nie, of net gehoorsaam wees nie, ons harte moet ook emosioneel gesond voor God lewe - God se leringe moet jou aanraak, beweeg en verander! Hopelik gaan dit jou weer help om van sit en staan na spring en dans te beweeg, of van oppervlakkig en onbetrokke na dieper en meer intens!


Dalk moet jy vandag 'n paar veranderinge aanbring, 'n klein skuif maak sodat jy weer opgewonde kan raak - oor God, oor kerk, oor Sy Woord. Die Psalms is juis bedoel om jou weer te laat huil en jubel - in oorgawe - jy moet beweeg, jy kan nie net wees nie.


DINK EN BID SAAM:

* Wat beteken groei en vooruitgang in jou geloofslewe vir jou?

* Wat beteken groei en vooruitgang in jou wedersydse verhoudings vir jou?

* Lees vir 'n slag 'n ander weergawe van die Bybel met nuwe woorde en perspektiewe

* Teken of verf 'n prent van Psalm 1. Plak dit op jou yskas. Hang dit in jou motor. Sit dit in jou Bybel.


Wees bly, wees bly, verbly jou in die Heer!

56 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page