top of page
elsabehorn4

06 - SONDAG, 19 MAART

Reëls, reëls, reëls maak deel uit van elkeen van ons se lewens. Almal van ons het al reëls gebreek in ons lewe omdat ons dit as onnodig beskou het, maar as ons met mekaar saamstem, kan ons nie die lewe sonder reëls en riglyne indink nie. Levitikus is vol reëls wat ons vandag as baie onnodig kan beskou. Levitikus is nie outyds nie, dit was immers deel van die enigste Bybel wat die Nuwe Testamentiese gemeenskappe gehad het.





Dit is belangrik om te weet dat Levitikus die grondslag vorm om Christus se koms en kruisiging volkome te kan verstaan. Dink maar aan die offerkultuur en hoe erg sonde vir God is... Jesus is die perfekte hoëpriester wat ons in die Ou Testament teekom... ons as gelowiges het 'n priesterlike rol wat ons moet vervul... die riglyne van hoe om God te bedank en te aanbid... en die belangrikheid om heilig te wees - nie net fisiese reinheid nie, maar reinheid van hart... Die beginsels wat Levitikus vir ons daaroor leer, bly steeds van krag – in terme van sonde, afgodery, ongeoorloofde seksuele verhoudings, moord, en towery. Selfs die tempelbeskrywing en rituele in die Ou Testament gee vir ons 'n idee van wat met die Heilige Gees bedoel word in die Nuwe Testament.


Ek wonder sommer toe ek al hierdie reëls lees hoe doelgerig, gefokus en vaartbelyn ons lewe vandag is. Watter riglyne en grense stel ons vir onsself en ons huise? Het ons nog enigins enige riglyne of pak ons maar elke dag en week en area van ons lewe aan met 'n "kom-ons-kyk-maar" houding?

Dis Maart-maand en ons kom nie daarby uit om ons Bybels te lees nie. Aan die begin van hierdie Bybellees reis was daar meer as 120 besoekers op die weeklikse blog... hierdie week was daar 20... Dis Maart-maand en ons is oorlaai, moeg, uitgeput, kort 'n blaaskans.


Midde ons besige skedules probeer ons die balle in die lug hou - verhoudings en verantwoordelikhede in stand hou - maar meer balle val op die grond as wat ons bo hou.


As ons nie die lewe gaan aanpak met duidelike grense en 'n intensionele, doelgerigte manier van doen nie, gaan ons verdwaal, verdrink of 'n plato in ons geestelike en emosionele groei bereik.

Voel jy:

* Oral oor gestrooi - jou lewe is vol en besig, maar reflekteer geen doel of prioriteite nie

* Gejaagd - te besig om by alles uit te kom, maar weet nie hoe om te verander nie

* Reaktief - jy voel nooit in beheer nie, reageer net op versoeke en slaan vure dood

* Uitgeput - voel moedeloos, onvervuld, asof jy jou tyd mors


Dis dalk tyd om in plaas van nog take en dinge wat jy moet doen, eerder net een reël vir jou lewe te maak - Christus in die middel - jou begin en einde om Hom te gehoorsaam en lief te hê. Bid, nader tot God en vra Hom om jou te wys wat jy volgende moet doen of sê, nie 'n klomp doellose lysies van dinge wat jou lewe volmaak, maar nie jou hart nie.


In plaas van nog lysies en dinge wat ons wil aanpak, kom ons maak meer reëls om God te eer, dank te betoon, te aanbid, te loof en te prys met ons hele wese. Daar is sekerlik steeds nie genoeg reëls en riglyne in die lewe om dit te doen nie!


Van reels gepraat:


* Het jy enige deal breakers - dinge wat jou laat wegstap van 'n verhouding of gesprek of situasie? * Waar moes jy al jou reels verander, aanpas om genadig te wees teenoor iemand? * Waar moet jy gaan vergewe hierdie week? * As jy een reel in jou huis kan maak hierdie week, wat sal dit wees? * Waar moet jy nee sê en grense stel?


Ons gaan hierdie week nie nuwe tekste lees nie, maar gee geleentheid vir almal wat agter geraak het of graag saam met ons wil begin lees om op te vang.  Geniet hierdie rustyd in die Here, dink na oor Sy Woord en begin intensioneel lewe om Hom te eer!




67 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page