“Hoe werk dit dat ek elke Sondag in die kerk sit en my Bybel getrou lees, maar vriende wat sonder reels en riglyne leef, is net so geseënd?” “Hoe leer ek my kinders wat is reg en verkeerd in ‘n wêreld waar Christen tieners kan kies wat hul geslag is en saam in die kerk sit?”
Hierdie was ‘n baie interessante week – skielik het ons die harde, woeste stories van Eksodus agtergelaat na ‘n vriendeliker, meer genadige Matteus in die Nuwe Testament. Ons gaan wel weer terugkeer na die Ou Testament, maar vir baie was dit ‘n redelike dramatiese verandering. Wat het dan van die harde wette en die strafmaatreels geword? Moet ons dan nou net onvoorwaardelik liefhê sonder om reg en verkeerd te oorweeg?
Matteus is die eerste boek in die Nuwe Testament wat bekend staan as die evangelie (alhoewel Markus waarskynlik eerste geskryf is). Dit staan waarskynlik eerste in die Nuwe Testament omdat dit die nouste verbind is met die Ou Testament en die profesieë wat ons daarin vind. Matteus, wat een van Jesus se dissipels was, was voorheen ‘n belasting-gaarder (Matt 9) en ‘n Jood wat baie bekend was met die wette van die Ou Testament en die verwagte koms van die Messias. Die mense vir wie hy skryf was egter ‘n mengsel van Jode en nie-Jode (heidene) en albei groepe, die kerk en die sinagoge, het daarop aanspraak gemaak dat hulle reg is en die ware volk van God is. Albei groepe het die Ou Testament tot hul beskikking gehad.
Vandag nog bevind ons onsself in hierdie situasie waar ons besig is om onsself te vergelyk met iemand anders, in terme van ons talente of gawes, hoe geseënd ander is of hoe baie jy moet sukkel. Ons voel dikwels ons skiet tekort of ons geloof is nie so sterk soos iemand anders s’n nie. Die waarheid is dat ons almal net eintlik besig is om onsself te regverdig of te veronskuldig.
Matteus kom wys duidelik dat alhoewel heidene nie die geleentheid gehad het om onder God se wette te funksioneer en dus nie daaraan onderworpe kon wees nie, dit nie die wette ongeldig maak nie. God se wil is steeds dat ons volgens sekere riglyne lewe, alhoewel Jesus dit moontlik gemaak het vir ons almal om nou ook te kan deel in die heerlikheid van God se koninkryk, sonder dat ons al die rituele nagekom het. Sonder om die rituele van die Jode deur te maak, het Jesus dit op ons harte kom skryf - dit is nou moontlik vir ons om die reels na te kom. Dis ‘n geskenk wat ons ontvang het, dit het ons kom regverdig, en daarom moet ons lewe getuig van dankbaarheid en gehoorsaamheid aan God se wil.
Toe ‘n tweede persoon hierdie week vir my Matteus 5:17 aanstuur, besef ek opnuut dat niks wat ons doen (reg of verkeerd) kan ons ooit regverdig nie. Net hierdie wonderlike, onverstaanbare liefde van Christus wat ons aan Hom en mekaar kom verbind.
Matteus 5:17 "Moenie dink Ek is hier om die wet van Moses en die profete af te skaf nie. Glad nie! Ek is juis hier sodat julle presies kan weet hoe julle die wet moet gehoorsaam. 18Ek sê weer: Ek kom nie om God se wet tot niet te maak nie. Dit sal altyd bly voortbestaan, tot aan die einde van die tyd; elke stukkie daarvan. So lank as wat hier nog mense op aarde is en daar nog sterre in die hemelruim is, sal die wet van God bly bestaan. So belangrik is dit.
19“As jy dit sou waag om een van die voorskrifte in die wet te ignoreer, hoe onbenullig dit ook al is, is jy in groot moeilikheid by God. Jy is nog dieper in die moeilikheid as jy ander mense leer om hierdie voorskrifte te ignoreer. As jy sulke dinge doen, moet jy nie dink dat daar vir jou ’n plek in God se nuwe wêreld sal wees nie. Aan die ander kant: as jy alles doen wat die wet sê en ook ander mense leer om presies dieselfde as jy te doen, sal jy definitief ’n plek kry in God se nuwe wêreld.
20“Maar nou moet julle baie mooi luister. Julle moenie die fout maak om die wet van God op dieselfde manier te probeer gehoorsaam as julle godsdienstige leiers nie. Nee, julle sal die wet nog baie strenger as hulle moet gehoorsaam as julle ’n plek wil hê in God se nuwe wêreld. Kom Ek gee julle ’n paar voorbeelde hoe julle dit moet doen.”
En dan lys Matteus ‘n klomp dinge wat verkeerd is met ons harte. Want of jy nou moord pleeg of egbreuk, valse getuienis, versuim om jou medemens te help, klippe gooi of seksuele misdaad pleeg, jok, oordeel, groot of klein sondes pleeg – ons is almal skuldig daaraan dat ons harte nie gefokus is op God se wil en goedheid nie, maar op ons eie behoeftes en “goedheid.”
“Moenie met ‘n vergrootglas na ander se foute kyk nie” in Matteus 7 het my bietjie rustiger gemaak.
Ek het weer my Bybel nader getrek en nog ‘n hoofstuk van Matteus gaan lees. En nog een. Daarin was die antwoorde wat ek heel week lank gesoek het – God is sooooo Goed. Ons is nie.
Ek was rustiger oor ons deurmekaar wêreld, maar terselftertyd meer as ooit gedetermineerd om God se wet en wil, liefde en genade, grootheid en goedheid met selfversekerheid te gaan verkondig en uitleef.
DINK HIEROOR:
* In watter areas van jou lewe maak jy op jou trots staat?
* Wat is daardie dinge wat jou hart meer warm laat klop as wat God doen? Is jy besig om jouself dalk te bedrieg?
* Hoe kan jy jou tyd en aandag meer aanwend om God te gehoorsaam en te loof eerder as om op ander se foute te fokus?
* In jou weeklikse doen en late, watter ontdekkings maak jy van jouself, van ander en bowenal van God?
“Deernis is vir my baie belangriker as offerandes. Ek het gekom om sondaars na die koninkryk te nooi, nie mense wat dink dat hulle alreeds goed genoeg is nie.” (Matt 9:13)
Amen.
Comments