top of page
elsabehorn4

04 - SONDAG, 5 MAART 2023

Jesus sê: "Die Gees van die Here is op My omdat Hy my gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep, herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig." (Jesaja 61). Hierdie verse is hierdie week vir jou!

In Eksodus 25 tot 27 het God vir Moses presiese instruksies gegee om die tabernakel op te rig. In hoofstukke 28 tot 29 gee Hy vir hom die volledige planne vir die priesters en wat hul moet dra. God was baie spesifiek met hierdie instruksies. Voordat Hy priesters met Sy heilige teenwoordigheid in die tabernakel bedien het, moes hul selfs met spesiale olie voorberei word.


In Eksodus 30 gee God hierdie spesiale resep vir die olie:

vyf honderd dele vloeibare mirre, twee honderd en vyftig dele geurige kaneel, en dieselfde hoeveelheid soet kalamoes, vyf honderd dele kassia en vier liter olyfolie (Eksodus 30:22-24).


Elkeen van hierdie bestanddele moes gekap, gepers en gefilter word - selfs die olyfolie moes deur 'n louteringsproses gaan voordat dit olie was - hoe meer jy die olywe saampers, hoe meer olie het dit produseer.


Elkeen van ons is waarskynlik al in ons lewens gekneus op een of ander manier. Ons is al gedruk op plekke waar dit seermaak, het al die stampe en stote van slegte verhoudings, werksdruk of 'n onvervullende huwelik beleef. Net hierdie week het ek weer besef hoeveel mense al in die kerkomgewing die seerste nog gekry het. Slegte ervarings gebeur op goeie plekke. Goeie intensies loop uit op harde, ongenaakbare werklikhede en nare verrassings. My hart gaan uit na elkeen wat hierdie week dalk so gevoel het, of moontlik vir jare al gebuk loop onder seerkry.


Maar weet jy wat, in daardie tye van verdrukking was God reeds besig om jou strategies te salf en voor te berei tot Sy diens.
Dis juis in daardie moeilikste, onverklaarbare en ongenaakbare tye, wat jy besef dat jy vir God nodiger het as ooit, wat jy toenadering by Hom soek en honger na Sy teenwoordigheid. Dis in daardie tye wat ons tyd maak om te bid en met God in gesprek is opsoek na antwoorde.

Die verdrukking voel nie goed nie, dit voel soms lank en uitgerek, maar dis so nodig om jou toe te rus en te ontwikkel om as gesalfde van God jou roeping op aarde te kan vervul. So wanneer jy die druk van die lewe ervaar, weet dat dit nie verniet is nie en dat dit nie vir altyd duur nie. Dit mag ongemaklik wees, maar God is besig om olie voor te berei wat uit jou beker moet vloei - 'n geskenk vir ander om jou wat nodig het om God ook op 'n nuwe manier te ervaar.


Byt vas in die druk tye - goeie tye is oppad!


DINK DAAROOR:

* Hoe is jy in die laaste jaar gestrek/ verdruk? Hoe het jy dit hanteer? Het jy meer gebid of minder? Het jy weggekruip of het dit jou gedruk na 'n beter plek?

* Bid vir iemand wat deur so 'n tyd van verdrukking gaan om vas te byt

* Hoe kan jy so 'n persoon aanmoedig deur 'n goeie daad - betaal vir middagete, bied aan om te babysit, stuur 'n nota van bemoediging.


Amen.

39 views0 comments

Recent Posts

See All

Bình luận


bottom of page