Ons het aan die einde van nog 'n week in die Bybel gekom. Vir party was hierdie week dalk selfs nog moeiliker om by te hou en daagliks die Bybel te lees, want dit vat nogals lank om nuwe gewoontes aan te leer, dit gedissiplineerd te probeer volhou en deel te maak van jou "ou, gewone" roetine. Oor die algemeen neem dit blykbaar 66 dae voordat 'n nuwe gewoonte gevorm word (of 'n ou een afgeleer word), so MOENIE OPGEE NIE!
Hierdie week se stories was weer vol familie intriges en drama. Dalk het jy jou eie familie daarin herken of was jy bitter dankbaar dat dit nie so gaan by jou huis nie. In Genesis 29-35 het ons die storie van Lea en Ragel gelees en dit was vir my opnuut hartseer om te besef hoeveel vroue presies soos Lea en Ragel voel.
"Omdat Lea minder geliefd was, het die Here vir haar kinders gegee, maar Ragel was kinderloos." (Genesis 30:31).
Lea het nie geliefd gevoel nie. Dalk vaal, vervelig, nie atleties gebou nie, alleen, afgeskeep. Haar hart was bitter. Ragel kon nie kinders kry nie. Haar lewe lank was dit die een ding wat sy so graag wou hê en dit het 'n wig tussen haar en haar suster gebring. Ook haar hart was bitter. God het op die ou einde vir Ragel geseën met kinders, waarvan sy die laaste een nie lewend gesien het nie, en gesterf het voordat sy God se belofte kon sien gebeur.
God kom pleit by Sy geliefdes om nie op te gee nie, want Hy gee nie op op jou nie. Hy wag geduldig dat jy na Hom toe moet kom en jou laste met Hom deel, jou vreugdes, jou vrae. Ons is so verskillend, selfs in ons eie families, maar dis nie die moeite werd om bitter te wees nie. Bitterheid lei tot jaloesie en jaloesie is 'n siekte wat jou siel vernietig. Sy mag dalk mooier wees, meer gewild, beter gebou, handig in die kombuis, vinnig op die fiets, super organiseerder, formidabele besigheidsvrou, maar dis nie wat van haar geliefd maak nie. Geliefd en geseend is 'n identiteit wat net God vir jou kan gee.
As jy sulke bitter oomblikke beleef, sit bietjie terug en plaas jouself op 'n afstand van die situasie. Moes jy al 'n hoë berg gaan klim, of 'n duin? Die duin lyk veel anders van ver af as wanneer jy op sy voet staan en moet begin klim. God is net ongelooflik amazing - hy het hierdie indrukwekkende hoë natuurelement geskep en as jy dit begin klim, sien jy hoe klein klippies en korrels bymekaar gesit is om so 'n groot berg of duin te skep. Ook met hierdie week se stories klink dit verskriklik om die gebeure te sien plaasvind, maar as jy jouself afvra: "Wat doen God toe?" is dit net ongelooflik om elke keer te besef hoe werk God - hoe praat Hy, wat sê Hy, met wie werk Hy, waar, wanneer, wat gebeur.
In plaas daarvan om bitter te wees hierdie week, staan bietjie terug en kyk net hoe werk God deur jou situasie, jou probleem, jou worsteling, jou onmiddellike omgewing. En ook deur jou.
Besef weer hierdie week dat iemand wag vir daardie iets wat jy hulle mee moet bedien - in spanning - en as jy nie gehoorsaam is nie, God mis, die oomblik mis - hulle ook gaan uitmis. Dalk is dit mentorskap, 'n boek, 'n onverwagse geskenk, 'n bord kos, 'n gebed, 'n drukkie, 'n whatsapp, 'n ja of 'n nee. Moenie opgee op jou rol nie.
Die stories van die Bybel is soms vreesaanjaend en maak nie sin nie, net soos baie van ons eie stories en gedagtes. Die krag en prag daarin lê dat jy dit met ander sal deel, want dalk sien hulle iets raak wat jy nooit gesien het nie. Dalk is daar iets aan die gebeur wat jy nie eens besef het nie. God is wel aan die werk, al sien jy dit dalk nie raak nie. Laat iemand anders toe om jou te wys.
Op 'n bitter noot... was Sodom en Gomora se storie aan die begin van hierdie week net weer super ontstellend. Ek beleef die laaste week 'n smakie van hierdie sondige gemors in ons onmiddellike lewe. Dit was 'n malle, woeste, gejaagde week vir my. Nog een. En dit voel vir my deesdae is elke week so. Ek moes agter skoolkinders aanjaag, vure doodslaan, kos gaan koop en 'n dag later weer 'n keer en toe nog 'n keer. Die malls is besig en die musiek raas, daar is 'n mark by die kerk waarvoor ons woeker en jaag en wat raas. 'n Kinderpartytjie, 'n sokkie, nog 'n dans. En dan is Sondae by die kerk ook nog harde musiek, 'n woeste gewoel en geraas. En oral moet jy 'n geldjie of meer uitgee. Alles voel soos 'n Sodom van verbruikersmentaliteit wat jou Sondae aande moeg in die bed laat val. In Genesis was dit onsedelikheid en afgodery... maar nie net in die fisiese sin van die woord nie - veral teen God.
Ek verstaan dat Lot net na 'n klein ou dorpie wou trek en van voor af wou begin. God roep jou hierdie week na daardie klein dorpie toe - die basiese goedjies met ewigheidswaarde, die eenvoudige stiltes van 'n Bybel en Hy vra jou mooi: "Bly by my."
'n Paar praktiese vrae om hierdie week oor te dink en bid:
* Wat is God besig om te laat gebeur in jou lewe?
* As jy al die mag in die wêreld gehad het, wat sou jy graag vandag wou verander?
* Hoe laat God se alomteenwoordigheid jou vandag voel?
Amen.
Comments