top of page
elsabehorn4

01 - SONDAG 12 FEB

Hoeveel keer het ons nie al Genesis in ons lewe gelees nie, maar hoe wonderlik dat die Here elke keer vir jou iets nuuts kom gee.


As jy gesukkel het om die Bybel te lees...

Party dae is ons eenvoudig te besig met dinge wat nie kan wag nie. Wees genadig met jouself en jou tyd, jou gemoed, jou bui. As ons nie lekker voel nie, wil ons nie noodwendig Bybel lees nie. Dis egter presies wat jy dalk nodig het op so ‘n dag – die Bybel en kosbare tyd met God. Lees ‘n hoofstuk terwyl jy wag vir die noedels om gaar te kook. Lees ‘n hoofstuk terwyl jy vir die kinders by die skool wag. Luister na ‘n stemgreep terwyl jy draf of in die motor ry. Daar is oorgenoeg maniere om tyd te maak vir jou daaglikse tekste. Hou ‘n notaboek in jou handsak en maak notas terwyl jy lees of skryf gedagtes neer. Onthou dat jy op Sondae kan opvang waarby jy nie uitgekom het nie of wat jy dalk te haastig moes lees. Hier en daar gaan ons ‘n breuk vat van lees om almal net weer te laat opvang. As jy dalk bietjie te bekend is met jou Bybel vertaling se woorde, kies ‘n nuwe vertaling soos Die Boodskap of Engelse Bybel wat jou weer op ‘n nuwe manier dieselfde storie vertel. En bowenal geniet dit as tyd saam met God!


Genesis

Die eerste paar hoofstukke van die eerste boek in die Bybel is die fondasie van God se Woord – as jy dit glo en ter harte neem, gaan die hele evangelie en God se plan vir jou soveel meer betekenis hê en gaan jy ook dit kan glo. Daar gebeur vreemde en ongelooflike dinge in Genesis, maar kies om dit te glo. Kies om te glo dat God dit vir jou gedoen het en kies om te glo niks is vir Hom onmoontlik nie. Kies om te glo dat mense rondom jou met jou vriende wil wees, dat hulle saam met jou wil werk, dat hulle jou nie gaan teleurstel nie en kyk bietjie hoe jou uitkyk op die lewe gaan verander.


Jy gaan nie alles verstaan en begryp nie en dis ook nie nodig dat jy dit alles honderd present hoef te verstaan nie. Kyk op na die groter prentjie – die uiteinde (wat ons al klaar weet goed gaan uitwerk) en Genesis gaan vir jou nuwe betekenis kry.




Hoekom is daar twee weergawes van die skeppingsverhaal (Genesis 1 en Genesis 2)? Genesis 2 is basies ‘n herhaling van Genesis 1, maar met ‘n meer spesifieke fokus op die sesde dag en wat alles daar gebeur het. Dit word uit ‘n ander hoek vertel – soos twee verskillende persone wat van verskillende hoeke ‘n foto van dieselfde ding neem. Waar Genesis 1 vir ons ‘n kronologiese, geskiedkundige weergawe gee, is Genesis 2 meer soos ‘n loflied of ‘n gedig, “’n groter prentjie” van Genesis 1.


Adam en Eva was fisies die eerste en enigste persone op aarde en uit hulle is die hele aarde se mense gebore. (Lees ook Genesis 9:19; 10:32). Alhoewel die Bybel net vir Kain, Abel en Set as kinders by name noem, bevestig Genesis 5:3-4 dat daar nog kinders was en dit was dus wel moontlik dat die seuns en dogters, niggies en nefies met mekaar gemeenskap gehad het, alhoewel die gene op daardie stadium nog suiwer was. (Gaan nie nou in detail gaan nie)


Boodskap vir jou

Jy moet dalk ‘n baie moeilike situasie in die gesig staar hierdie week. Jy voel dalk moedeloos of lamgelê oor ‘n uitdaging, ‘n struikelblok in die pad. Jy is dalk maar net moeg en afgemat, twyfelagtig, vreesbevange. God kom sê vir jou in Genesis, waar Hy ‘n verbond met Adam, en weer met Noag en weer met Abraham, gesluit het, dat Hy jou nooit sal los nie – Hy het hierdie. Selfs al krap iemand Sy planne deurmekaar, al lyk dinge nie meer “goed” soos wat Hy dit geskep het en soos wat Hy vir jou ook beplan het nie, gaan dit Hom nie van koers af bring nie.


Genesis 18:14: “Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom.”

Wat ‘n wonderlike belofte! Selfs toe Sara nie God se belofte kon glo nie, en haar eie planne begin volg het, wat sy weet nie binne die wil van die Here kan wees nie, het God kom bewys dat Sy planne sal seevier! Moenie dat ‘n doodloopstraat of ‘n onsekerheid jou laat stagneer, lamlê, opgee of wegkruip nie – staan trots en glo!


Mag jy hierdie week daardie onmoontlike situasie met geloof eerder as twyfel stormloop. Vervang intensioneel jou vrese met ‘n positiewe uitkyk.


Ten slotte. ‘n vraag vir jou uit Genesis 18:



“Hagar (Ester, Samantha, Elizabeth, Michelle, Wanda, Lynette...), slavin van Sarai, waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?” Dit is God se belofte vir jou!


In gebed

Here, help my met die areas in my lewe waar ek nog nie volkome glo nie. Wys my hoe om my twyfel in geloof om te sit. Here, ek kies om positief te praat, te wees en op te tree eerder as negatief en twyfelagtig. Amen.


136 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page