top of page

Geestelike Kos

Ek het nog altyd gedroom van 'n koffiewinkel met heilsame sielskos en tuisgemaakte disse, maar meer as dit 'n plek waar mense bymekaar kan uitkom, die laste van die lewe kan afpak en met 'n warm hart en ligte siel kan wegstap.  Kos is so 'n iets wat mense bymekaar bring, want kos voed baie meer as net ons maag.

Maar toe swot ek bemarking en kommunikasie, werk as skakelbeampte en konsultant, beland in die kerkomgewing en swot teologie, kry my honneurs en bedien die gemeenskap as predikant. Hoe verder ek van my kosdroom af beweeg het, hoe nader het ek aan my kosdroom beweeg.  Al besit ons nie almal 'n koffiewinkel met heilsame kos nie (want dit klink my dis amper almal van ons se droom), is kos tog so deel van ons alledaagse rolle.  My kosstorie is sommer net ma-wees in die kombuis vir my man en drie kinders, maar dis soveel meer. Dis koek-en-tee met vriendinne en nagmaal in die kerk.  Dis saamsit om 'n tafel, hande vashou, mekaar in die oë kyk, krummels en trane afvee.  Dis 'n plek waar ons ons gawes kan ontdek en uitleef en mekaar kan bederf met die talente wat ons ontvang het.  Dis om naby die Here te leef en gevul te word met Sy volheid.

 

Ek het onlangs by die kerk so 'n plek, 'n kuierkafee, aan die gang gesit waar ons kan bedien en kan geniet.  Dit is "omidraai" en ek stel dit oop vir almal om hul stories te deel, met koffie en kos daarby.  

Ek deel graag met hierdie bladsye my ervarings, ontdekkings en stories rondom kos met die doel om te inspireer, te bemoedig en te verbind.  Ek deel ook graag geestelike kos om ons as vroue gereeld by die tafel van die Here te laat aansit.  Ek hoop jy deel ook graag jou hart, kosstories en ervarings, pos resepte en foto's van dit wat jou gelukkig maak. 

 

Oi-kos, want almal het 'n kosstorie of twee.

IMG_0014_edited_edited.jpg

Elsabe.

Volg my op Instagram

Instagram
bottom of page